Get to Know

Jana du Plessis: ‘n Lewe met die groot ‘K’

Jana du Plessis: ‘n Lewe met die groot ‘K’

As jy hier lees en Jana du Plessis het jou lewe al op een of ander manier aangeraak met haar aangrypende verhaal, is jy maar een van baie. Haar stryd met kanker het haar allermins ondergekry en vandag is sy ‘n bol energie wat inspireer net waar sy kom.

“Ek sien myself as uiters geseënd,” glimlag Jana tydens haar fotosessie met Get It. Sy wys vir my en Loren (Get It-fotograaf) hoe haar geamputeerde been lyk wanneer sy haar prostese verwyder. Daar wys geen teken van bitterheid of hartseer op Jana se gesig nie. Sy lag, “Ek en my man spot gereeld – hy dra kontaklense, so in die oggende moet hy sy oë insit en ek moet my been aansit, en albei vat omtrent ewe lank!”

NO2_7642

Jana is as Kansa se Internasionale Held(in) van Hoop in 2011 aangewys en het onlangs haar boek, Aardetyd is Genadetyd, die lig laat sien. Sy tree ook bykans op ‘n weeklikse basis op as motiveringspreker waarin sy vertel hoe sy harde paaie met kanker, die amputasie van haar been en die aborsie van haar ongebore baba moes verwerk – en dit alles skaars voor die ouderdom van 30. Maar vandag gaan dit met Jana baie goed – en ‘n mens kan dit síén. “Dit bly maar ‘n konstante pad en elke dag het vir seker sy uitdagings. Min mense weet ek drink steeds die chemo-pil nadat ek in 2012 vir ‘n tweede keer met kanker gediagnoseer is. Ek hoef egter nie meer elke drie weke vir ‘n hospitaalondersoek te gaan nie, maar in siklusse van ses weke. Dit bly moeilik, maar alle newe-effekte van die chemo-pil is bo verwagting hanteerbaar.”

Die alewige vrees vir die groot ‘K’ is soos ‘n spreekwoordelike gewas waarmee Jana moet saamleef. “Dit is nie iets waarvan jy jou kan losmaak nie. Dis deel van my lewe en ek moet daagliks die keuse maak om dit te hanteer. Dit sal jou denke oorheers as jy nie kies om die positiewe te vat uit elke dag nie.”

“Dit is nie iets waarvan jy jou kan losmaak nie. Dis deel van my lewe en ek moet daagliks die keuse maak om dit te hanteer.”

Die hoogtepunt van Jana se loopbaan as motiveringspreker was toe sy onlangs met Coenie de Villiers op Kwêla gesels het. “Dit was ‘n groot oomblik en ek kom steeds by optredes wat mense daarvan praat. God het definitief my grondgebied daardeur vergroot.” Get It wou by Jana weet – en dis sekerlik ‘n vraag wat talle mense vra – waarom sy juis gekies het om praatjies te doen en ‘n boek te skryf oor haar reis met kanker, eerder as om die
slegte agter te laat en ‘normaal’ met haar lewe aan te gaan. “Om die waarheid te sê, dit is nie iets wat ek gekies het nie, dit het net vanself gebeur, en
een optrede het na ‘n volgende gelei. Een aand kon ek nie slaap nie, en het daaraan gedink om ‘n boek te skryf. Ek het onmiddellik begin tik en toe ek weer sien het die son opgekom. Ek het, terwyl ek dit geskryf het, vir die tweede maal deur elke liewe emosie gegaan. My pad het daarna met Maretha Maartens, wat my gehelp het om dit reg te verwoord gekruis. Ek het net geweet dat die boek deur God geïnspireer is.”

NO2_7682

‘n Tipiese dag in Jana se lewe is allermins rustig. Hoewel sy bevoorreg is om ‘n huismamma in die week te kan wees, hou haar gesin haar besig! “In die oggende is daar altyd ietsie wat ek vir Ian (haar man) moet doen en ek moet ook my eie verpligtinge nakom. Ek doen baie oggende ook  hospitaalbesoeke. Ek is ook bevoorreg om my eie twee kinders én my broer se kinders elke middag by my te kan hê. Om vier kinders rond te ry na verskillende aktiwiteite is voorwaar ‘n uitdaging, maar sekerlik die grootste voorreg!”

As ambassadeur van die skoonheidsreeks Placecol is vroulike skoonheid en selfversorging vir Jana belangrik. Sy wil dit ook op die regte manier aan haar dogtertjie oordra. “Ek probeer haar leer dat God ons as vroue baie spesiaal gemaak het en deel van vrouwees is om jouself uiterlik ook te versorg – maar dit mag nooit die belangrikste fokus van jou lewe wees nie. Ek wil haar leer wat dit is om Jesus Christus in haar lewe te hê, om ‘n sagte gees te hê en om ander altyd bo haarself te stel.”

NO2_7688

Foto’s: Loren Battersby

Geneem by Gallery on Leviseur.

 

Get It Bloemfontein September 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.