Beauty

Claudene Naude skep uit die aarde

Claudene Naude skep uit die aarde

Vir Claudene Naude sluit die woord ‘kuns’ ‘n hele wêreld van moontlikhede oop. Sy is self ‘n kunstenaar wat haar by baie meer as net een dissipline betaal. Get It het met dié veelsydige skepper van aardse kuns kennis gemaak.

Ringe, armbande en hangertjies is miskien waarvoor die borrellende blondekop-Claudene die meeste bekend is in kunskringe. Maar begin sy gesels oor haar mosaïek-werk, mandala-skeppings en liefde vir interieur, is dit duidelik dat ‘n mens haar nie moet ‘vlak’ kyk nie. “Ek is vir seker nie die normkunstenaar wat net skilder of juwele maak of ontwerp nie. As ek iets sien wat vir my mooi is en waaruit ek inspirasie put, maak ek dit. Of altans, ek probeer,” lag sy.

Claudene vertel in haar rustige huisie in Groenvlei hoe sy vir ure aaneen kan sit en patrone ontwikkel om ‘n  kleurvolle mandala te skep. Dis ‘n soort terapie, vertel sy. ‘n Mens dink op daardie oomblik aan niks anders as die mooi wat onder jou vingers ontvou nie.

Sy is ook baie lief vir die tegniek van macramé-weef, veral met haar versameling armbande. “Ek wil bitter graag begin om macramé-werkwinkels aan te bied. My eie kunswerkwinkel is ook iets waaraan ek begin beplan.” Claudene maak ook klere uit meestal natuurlike en herwinbare materiaal, en haar reeks hondejassies wat onlangs die lig gesien het, is baie gewild.

Sy skep onder die naam Mystic Merchants en het ook ‘n webblad waar ‘n mens na haar kunswerke en klere kan gaan loer. Hoewel sy haar nou weer in Bloemfontein kom vestig het en ‘n toekoms met haar kuns wil bou, was Claudene vir tien jaar lank as’t ware ‘n wêreldreisiger en het sy in altesaam 27 lande gewoon. “Ek het baie inspirasie gekry uit die verskillende kunskringe in elke land,” vertel Claudene. Sy het oral goeie kunstenaarsvriende gemaak met wie sy tot vandag nog kontak het en wat juis binnekort Suid-Afrika toe wil kom om kunsinspirasie hier te kom soek. “Dit
maak nie saak waar jy in die wêreld is nie, kuns is iets wat mense saambring. Ons kunstenaars is een groot  gemeenskap.”

Sedert 2010 is Claudene terug in Bloemfontein waar sy vir meer as drie jaar by Art Deco Frames gewerk het. “As ‘n
mens so baie rondreis leer jy nooit regtig om ‘n besigheid te bestuur en sekere verantwoordelikhede na te kom nie. By Art Deco Frames het ek al hierdie nodige vaardighede aangeleer,” vertel sy. Tussendeur wil Claudene graag ‘n inspirasie wees vir ander om so ekovriendelik moontlik te leef en Moeder Aarde te respekteer. “’n Mens kan so baie mooi dinge skep deur te gebruik wat reeds in die natuur rondom ons is. Ek wil ook ander leer om inspirasie uit die aarde te put.”

Gaan kyk na Claudene se kunswerke op haar Facebook-blad, Mystic Merchants.

 

Get It Bloemfontein September 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.