Décor & Gardening

Angel Hearts – op vlerke van omgee

Angel Hearts – op vlerke van omgee

Vir Karen Kemp is dit tweede natuur om van haarself te gee sonder om terug te verwag. Dié voormalige tuisteskepper is nou die vlerke agter die liefdadigheidsorganisasie, Angel Hearts.

Dis ‘n klein opset, maar die verskil wat dit aan soveel mense se lewens maak, is onmeetbaar. Angel Hearts is ‘n winkel en werkswinkel vir ses gestremde mense in die hartjie van die stad – reg langs Gallery on Leviseur in Dan Pienaar. Hier kan jy na hartelus kom inkopies doen vir geskenke, huisdekor of juwele. En alles natuurlik teen uiters bekostigbare pryse. Maar die doel en storie agter hierdie pragtige winkel is selfs nog mooier as die fraaie oorbelle en teddies wat die oog vang.

IMG_7003

Karen, ma van twee, was haar lewe lank ‘n voltydse ma en huisvrou. Totdat sy net meer as drie jaar gelede besluit het, noudat haar kinders groter is, sy iets met haar tyd wil doen wat ‘n verskil in ander se lewens maak. “So het ek betrokke geraak by Kopano Protective Workshop waar sowat 60 gestremde mense met hul hande werk om ‘n geldjie te verdien. Dit was vir my ‘n heerlike tyd – ek het só lief geword vir daardie mense,” vertel Karen. Maar iets het haar pal gepla. “Ek het begin agterkom dat hoewel daardie mense iets konstruktiefs met hul hande doen, hulle steeds afgesonder van die samelewing is.”

Só het dit Karen se groot droom geword om hierdie mense nader aan hul kliënte te bring en meer mense van hulle talente bewus te maak. Om ‘n lang, inspirerende verhaal kort te knip, Karen het op die ou einde ses mense gekies om vir vyf dae ‘n week in die ruimte wat sy langs Gallery on Leviseur huur, te kom werk. So het Angel Heartswerkswinkel en -winkel in Maart 2015 tot stand gekom. “Dit was regtig moeilik om net ses mense saam met my te neem. Ek het bitter lief geword vir almal by Kopano. Maar ek kon ongelukkig nie meer mense akkommodeer nie,” vertel Karen. Vir Karen se droom om te realiseer, moes sy aanvanklik self alles uit haar eie sak finansier. Die materiaal, gereedskap, vervoer, asook die huur van die werkswinkel. “Ek was van die begin af oop en eerlik met almal. Ek het gesê die geldjies wat hulle maak deur hul verkope, moet ons eers aanwend om die huur en hul vervoer te betaal. Eers daarná sal ek iets vir hulle kan gee. Hulle het dit verstaan en kliphard aan die werk gespring.” Dit was nie lank nie toe kon Karen aan elkeen ‘n salaris begin betaal.

IMG_7009

Dis ongelooflik om te sien hoe hierdie mense uit hulle dop kruip omdat hulle nou voel hulle dra iets belangriks by tot die samelewing.

Vervoer was egter vir die eerste jaar ‘n groot kopseer. Karen het self soggens en saans elkeen by hul onderskeie huise
gaan op- en aflaai – ‘n oefeninkie wat haar gesamentlik drie uur elke dag geneem het. Ná verskeie mislukte ooreenkomste met taxibestuurders en ‘n barmhartige Samaritaan wat hulle vir drie maande lank gratis in sy kombi rondgery het, het hulle‘n permanente vervoeroplossing bereik.

IMG_7010

Die ses talentvolle kunstenaars is uiters passievol oor hul werk. Elizabeth is gediagnoseer met dwergisme. ‘n Mens kan haar aansteeklike lag tussen enige groep mense uitken. Sy doen pragtige kralewerk en maak uitsonderlike juwele. Lobi is leergestremd. Volgens Karen is hy multitalentvol en staan sy hande vir niks verkeerd nie. Hy is lojaal, hardwerkend en elke dag dieselfde. Sammy was as baba in ‘n ongeluk, wat breintrauma veroorsaak het, betrokke. Hy het ‘n uitsonderlike talent vir brei (hy brei die mooiste mussies!) en kan pragtige, gekleurde matte maak. Gloria en Nthabiseng het albei as kinders polio gehad en hul beweeglikheid is dus beperk. Altwee doen briljante naald- en fynwerk. Richard, wat ook trauma as kind beleef het, was vir jare lank so te sê stom en het gebaretaal gepraat. Nou gesels hy, hy is mal oor musiek en ‘n kranige kunstenaar.

“Dis ongelooflik om te sien hoe hierdie mense uit hul dop kruip omdat hulle nou voel hulle dra iets belangriks tot die
samelewing by. Dit is ook ‘n positiewe uitlaatklep om kreatief te wees en mooi goed met hulle hande te skep,” sê Karen.

IMG_7015

Die produkte wat uit die Angel Heartswerkswinkel kom, sluit dekorartikels in soos kussings, skilderye, geverfde skinkborde, hout-ornamente, matte, teddiebere en kassies. Daar word ook gespog met pragtige juwele van hout en krale.

Hoewel hierdie organisasie uit ‘n welsynsoogpunt bedryf word, is Karen streng daarop dat hulle artikels van hoë
en professionele gehalte verkoop. “Dit is ook tog ‘n besigheid. Ek wil hê mense moet ons goed WIL koop. Ek hou hulle al ses ook verantwoordelik om vriendelik te wees met ons kliënte, beleefd op te tree en eienaarskap te neem van hul werk en hul winkel.”

Karen se oë raak vir die soveelste keer waterig wanneer ons gesels oor hoe baie mense se lewens hierdie inisiatief aanraak en verander. Aldi de Klerk is ‘n vrywilliger wat hul administratiewe take behartig. Aldi gesels saam: “Ek gaan tans deur ‘n moeilike tyd in my persoonlike lewe. Om elke dag tussen hierdie lie ike mense te werk en te sien hoe die Here mense se lewe deur hulle aanraak, gee my nuwe hoop.” Karen voeg by: “Weet jy hoe baie mense kom hier in en kom seën ons met hul dienste of tyd? Dis ongelooflik!” Sy vertel van Jaco Spies van Djembe Drumming wat elke
Donderdagmiddag tussen 13:30 en 14:30 gratis vir die werkers ‘n tromspeelsessie aanbied. (Terloops, ander gestremdes is ook welkom om dit by te woon – kontak Karen vir meer hieroor.) “Daar was ‘n groep vroue van ‘n gemeente hier in Bloem wat elke Vrydag vir hulle kos en lekkergoed gebring het. Daar was ook nou die dag ‘n vrou wat ‘n koevertjie met geld vir my gegee het sodat ek hulle almal op ‘n uitstappie na Kimberley kon neem vir die dag. Mense se harte is groot.”

IMG_7038

Besoek gerus Angel Hearts in Leviseurstraat 4B, Westdene, of skakel 082 871 3121. Loer ook na hul Facebookblad:
Angel Hearts – Workshop for people with disabilities.

IMG_7040

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.