Kids

Cathy de Lange praat oor die waarheid van ma-wees

Cathy de Lange praat oor die waarheid van ma-wees

Cathy de Lange is ‘n mamma wat haar lewe vreesloos met duisende deel. Haar reis as aanlyn-blogger het onlangs vlam gevat en sy gesels oor dinge wat die meeste ouers raak, maar waaroor min gepraat word. Get It het met haar gesels.

Cathy, vertel ons eers meer van jouself.

Ek het in die klein Oos-Vrystaatse dorpie, Clocolan, grootgeword en in Ficksburg matriek geskryf. Ek het geen idee gehad wat om na skool te swot nie, toe loop soek ek maar ‘n joppie. Dit het my darem gelei tot waar ek hierdie jaar al 11 jaar lank by die Universiteit van die Vrystaat werk! Ek en my man is – glo dit of nie – ‘n properse skoolkys. Ons het begin uitgaan toe ek 16 was. Ek het sommer gou besef hy is my ever after, en hier is ons… 19 jaar saam en amper 11 jaar getroud!

 

Jy is ‘n pragtige mamma van drie pragtige dogtertjies. Hulle is seker ‘n handvol?

Baie dankie! Dis nou drie goed in my lewe waaroor ek nie skaam is om te ‘brêg’ nie. Hulle kan maar ʼn lekker handvol wees, maar ek dink my redding is dat hul ouderdomme so lekker verskil. Megan is nou 9, Anja is 6 en Leandi is ʼn jaar en 7 maande oud.

 

Om ‘n werkende ma te wees, is geen grappies nie. Wat is vir jou die grootste uitdaging daarvan?

Sjoe, dis beslis nie grappies nie. Ek dink my grootste uitdaging is dat my tyd nie my eie is nie. Ek kan nie altyd al hul buitemuurs en spesiale geleenthede wat deur die dag plaasvind, bywoon nie. Dis die slegste daarvan. Dis soms moeilik om al my draaie te kry.

Cathy en haar jongste, Leandi

Hoe loop jou daaglikse roetine as ‘n werkende mamma met drie kinders?

My dag begin half 5 elke oggend wanneer ek vir ʼn volle 40 minute lank in die bad lê! Dis my tyd van stilte (ter wille van my eie oorlewing) voordat die oggend-storm losbreek. Daarna is dit maar die gewone chaos en 7 uur moet die De Langes by die deur uit, anders is ons laat! Van daar af is dit my 8 tot 5- werksdag, kinders oplaai, huiswerk, kosmaak, bad, bed… en dan is hierdie mamma poegaai. Gelukkig is my man ongelooflik en help my vreeslik baie in die huis en met die dogters.

 

Jou reis as blogger (en ook onlangs video-blogger) het onlangs begin. Vertel ons meer daarvan.

Kyk, ek praat baie en ek het gewoonlik ʼn eier te lê oor als. Toe besluit ek om my pratery op papier te sit en, voila! Nou is ek blogger vir Mammas24/7, op die oomblik een van die grootste ondersteuningsgroepe vir Suid-Afrikaanse ma’s en oumas op Facebook (die ledetal is al 38 000 mammas!). Dan het ek ook onlangs as weeklikse rubriekskrywer vir Netwerk24 Leefstyl begin skryf. Dis ʼn fantastiese platform en ek geniet dit vreeslik. Laastens skryf ek ook vir die gesamentlike blog, Tjlevva.com, wat ʼn vermaak-, leefstyl- en besigheidsblog is.

Die vlogs is ʼn onlangse toevoeging, en maggies, is daai nou vir my lekker! As ek oor iets praat en ek kan net een persoon laat knik en dink “jissie, dis presies hoe ek voel”, dan is ek tevrede.

Haar dogtertjies, Megan, Anja en Leandi

Waaroor skryf jy?

Ek skryf uit my hart. Ek skryf oor dinge wat my gelukkig maak, kwaad maak, hartseer maak, dinge waaroor ek wonder of onseker is. Gewoonlik is my kinders die oorsaak van een, of sommer al die dinge! Ek het myself nogal voorgeneem dat ek nie ʼn ‘mommy-blogger’ sou word nie, en hier is dit nou waaroor ek die lekkerste skryf.

 

Kom dit vir jou natuurlik om jou hart op jou mou te dra vir duisende lesers?

Baie natuurlik. Ek is ʼn mense-mens en dit voel bloot of ek nog ʼn geselsie aanknoop. Ek het die talent by my ma geërf. Dis vir my so lekker om my emosies neer te pen en te weet ek is nie alleen in hoe ek voel nie.

Dis vir my so lekker om my emosies neer te pen en te weet ek is nie alleen in hoe ek voel nie.

Dink jy ma’s vereenselfwig met jou omdat jy praat oor dinge wat ons almal beleef?

Absoluut. Mens is deesdae so bang om te sê wat jy voel, want alles moet tog so polities korrek wees, maar ma-wees is als behalwe polities korrek. Dis moeilik, uitdagend, uitputtend, vreesaanjaend en wonderlik, als op een slag!

 

Jy’s uiters reguit in jou blogs. Waaroor dink jy praat ouers te min?

Ek dink ouers, en veral mammas, is soms bang om te erken dat als nie altyd goed gaan nie. Dat jy soms sukkel. Dat dinge soms te veel raak. Die samelewing sit soveel druk op ons om perfek te wees. Ouerskap is nie perfek nie. Jy mag maar sê dit gaan rof! Jy is nié ʼn slegte mamma omdat jy ʼn paar slegte oomblikke beleef nie. Praat daaroor – ek belowe jou, jy is nie alleen nie!

 

Wat is jou drie grootste skoonheidsgeheime?

Oe, hierdie is ʼn lekker een, want dit is nie die generiese goed nie. Ek sou sê om altyd parfuum en maskara te dra; om altyd mooi onderklere te dra (want dan voel jy sommer mooi!); en om nooit jou sensualiteit te verloor net omdat jy ʼn mamma geword het nie.

 

Hoe lyk jou lewe in ‘n ideale droomwêreld?

In my droomwêreld sal niemand ʼn ander een oordeel nie. Almal sal mekaar ʼn plekkie in die son gun. Jy ken nie ʼn ander ou se storie nie, so moenie oordeel voor jy nie weet nie. En dan sal ek beslis Photoshop verban sodat geen vrou ooit weer sleg hoef te voel omdat sy nie soos daai girl op die voorblad lyk nie!

 

Volg gerus vir Cathy op Facebook by Cathy de Lange.

 

Get It Bloemfontein September 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.