Entertainment

Kaleidoskoop kom Bloem toe met splinternuwe album

Kaleidoskoop kom Bloem toe met splinternuwe album

’n Akoestiese musiekavontuur met ’n treffende eindbestemming…

Net soos wat die pragtige kleure en vorms van ’n KALEIDOSKOOP ’n baie spesiale bekoring inhou, net so het hierdie talentvolle akoestiese musiekgroep – met dieselfde naam – dit reggekry om die afgelope tien jaar die harte van musiekliefhebbers regoor die land te verower. Hierdie Huisgenoot Tempo-bekroonde (Beste Kontemporêre Album 2012) en Ghoema-genomineerde (Nuweling van die Jaar, Beste Kontemporêre Album, Musiekvideo van die Jaar) sang-duo is self verantwoordelik vir elke aspek van hulle musiek en bied aan luisteraars ’n hoendervleismooi akoestiese klank, vermeng met ’n magiese kombinasie van melodieë en instrumente – wat nie net aanklank vind by gehore van alle ouderdomme nie – maar ook getuig van hulle talent, passie en sinergie.

Die groep, wat tans bestaan uit Jouba (stigterslid) en Anique Jordaan, is in 2006 gestig toe die oorspronklike lede (Jouba en Gerhard Liebenberg) almal nog op universiteit was. Alhoewel hulle in 2007 die album, Bladwisselend, vrygetsel het, is alle optredes in 2008 gestaak omdat drie van die lede die groep verlaat het. Dit was eers toe Anique Jordaan, in 2009, as hoofsanger aangesluit het dat Kaleidoskoop weer voltyds hulle passie vir musiek hervat het. Sedertdien het dié duo diep spore in die musiekbedryf kom trap, heelwat sukses geniet en die verhoog gedeel saam met van die land se grootste kunstenaars soos Mathys Roets, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Drie Van Die Bestes, Lize Beekman, Adam Tas, Chris Chameleon en vele meer.

Oor die jare, het hulle drie suksesvolle albums en ’n DVD uitgereik. Platsak (2010), Vars Uitgekerf en Acoustic Covers. “Omdat aanhangers by ons vertonings ook die liedjies wat nie uit ons eie pen kom nie op CD wou hê, het ons besluit om ook hierdie liedjies op te neem, maar met ’n vars verskil. Dit bevat treffers van wêreldbekende musikante wat verwerk is tot akoestiese weergawes van die oorspronklike saamsing-treffers,” sê hulle. Acoustic Covers is propvol interessante instrumente soos: trekklavier, wurlitzer, ukulele, glockenspiel, 12-snaar kitaar, kontrabas asook tjello en viole. Die unieke duet-sangstyl van Jouba en Anique verseker ’n vars Kaleidoskopiese weergawe van hierdie ou gunstelinge.

’N NUWE ALBUM

Ter viering van ’n suksesvolle dekade in die musiekbedryf, het die groep pas ’n nuwe album, Gunsteling Seisoen, bekendgestel wat beslis ’n bederf is vir die oor. Die nuwe vrystelling het oor die algemeen ’n Folk-popaanslag, met baie plaaselemente en ’n kombinasie van musiekinstrumente – soos die banjo, saxofoon, madolien, kontrabas en die mondfluitjie – wat elke sielvolle liriek perfek ten toon stel. Soos met hulle vorige albums, gaan dit ook fokus op die lewe, liefde en menswees en voortbou op die akoestiese wenresep waarvoor hulle bekendheid verwerf het. “Ons het met ons vorige oorspronklike album bietjie geëksperimenteer met ligte elektroniese klanke, maar tog nie ons akoestiese aanslag prysgegee nie. Met die nuwe CD het ons ’n bietjie wegbeweeg van die elektroniese styl en sterk gewoeker met ons diepgewortelde akoestiese aanslag. Ons het ook hier-en-daar die hartseer van die lewe – wat natuurlik ’n realiteit is – aangeraak en steeds probeer om mense te inspireer. Ons wil tuisbring dat jy tog in hartseer en moeilike tye hoop het om aan vas te hou en steeds die mooi in die lewe kan raaksien. Die album het ook letterlik iets vir almal en bestaan uit ’n kombinasie van dieper ballades, ritmiese snitte en ligte, speelse verwerkings”, verklap hulle. Die album-omslag is ook spesiaal ontwerp om seisoene uit te beeld. “Daar is vier verskillende voorblaaie, wat elkeen ’n seisoen verteenwoordig. Die binneblad is dieselfde vir almal, wat daarop sinspeel dat alhoewel omstandighede verander, die lied in jou hart onveranderd kan bly as dit ewigheidswaarde het. Die omslag wat luisteraars koop, verteenwoordig ook letterlik hulle gunsteling-seisoen.”

Kaleidoskoop stel hul nuwe album tydens ‘n vertoning bekend in Bloemfontein se Kopanong Ouditorium (Kovsiekerk) op 13 Mei, 19:00. Kaartjies kos tussen R100 of R120 en is aanlyn beskikbaar by Computicket. Moet dit nie misloop nie!

 

 

Get It Bloemfontein September 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.