Travel & Outdoors

Weelde uit die verlede by die Royal Fischer Hotel

Weelde uit die verlede by die Royal Fischer Hotel

Die woord luuks kry ‘n nuwe betekenis vir die splinternuwe, enig-in-sy-soort Royal Fischer Hotel in Woodland Hills Wildlife Estate. Kom kuier saam met Get It by dié geskiedkundige landmerk.

Die Royal Fischer Hotel doen sy naam gestand. Besoekers word behoorlik op die hande gedra en soos koninklikes behandel. Maar, kom ons gee eers ‘n tree terug in die verlede. In die 1890’s het Abraham Fischer ‘n plaasopstal in Bloemfontein gebou. Vir dié van ons wie se sterk punt nie Geskiedenis is nie: Abraham was die destydse eerste minister van die Oranjerivierkolonie, en sy kleinseun, Bram Fischer, was Nelson Mandela se regsverteenwoordiger tydens die Rivonia-verhoor. Hy het ‘n groot rol gespeel in die stryd teen apartheid. Bram het later jare teruggekeer na die plaashuis in Bloem waar sy oupa gewoon het.

Draai die horlosie ‘n paar dekades aan, en die vriendelike personeel by die Royal Fishcer Hotel verwelkom jou vandag met ope arms by die oorspronklike huis wat Abraham gebou het. Die hotel bestaan uit die huis en vyf losstaande gaste-eenhede. Met die eerste tree in die huis se voorportaal, word jou asem weggeslaan deur die eklektiese mengsel van oud en nuut. Die nuwe eienaars, André en Susbeth Venter, het gesorg dat die huis soveel as moontlik van sy oorspronklike boustyl behou, soos die egte geelhoutvloere, vensters, kaggels, klipvloer, teëls en wynkelder. Oral teen die mure pryk oorspronklike foto’s en gedenkwaardighede van die Fischer-familie. “Hierdie huis is ryk aan geskiedenis en interessanthede,” vertel Dewald Schoeman, bemarkingsbestuurder van die hotel. Hy wys na die klipmuurtjies wat rondom die huis staan. “Hierdie muurtjies is in die Anglo-Boereoorlog gebou as beskerming teen die vyand.” Die oorspronklike muur, wat destyds as ingang na die plaashuis gedien het, staan ook steeds.

Dewald vertel hoe die Venter-egpaar – wat ook die Anta Boga Hotel in Bloem besit – besluit het om die ultra-luukse Royal Fischer Hotel die lig te laat sien. “Die huis was vir baie jare lank verwaarloos en in onbruik. Dit is ook die enigste perseel op die Woodland Hills-landgoed wat besigheidsregte het. Hulle wou graag die onvervangbare geskiedkundige waarde van die perseel behou en in ‘n aantreklikheid vir gaste van oor die hele land omskep,” sê Dewald.

Die vyf gaste-eenhede is elk toegerus met twee badkamers (‘n ‘his and hers’), ‘n koninggrootte bed met luukse beddegoed, ‘n intieme TV-hoekie, ‘n kaggel, ten volle toegeruste kroegyskas, stoep en private swembadjie. Twee eenhede het ook ‘n buitestort en een ‘n buitebad. Elke suite is vernoem na ‘n lid van die Fischer-familie. Die kontemporêre dekor-elemente is lig en aards en in pas met die Internasionale Kleur van 2017 – helder groen met woud-motiewe. Dít, saam met die oudhede en geskiedkundige boustyl, sorg vir ‘n unieke voorkoms wat terselfdertyd luuks, aards én huislik is. Die dekor is deur Susbeth self gedoen. “Sy het ‘n ongelooflike oog vir binnenshuise versiering en dekor. Die unieke dekor is gewoonlik een van die eerste elemente waarop gaste kommentaar lewer as hulle hier kom kuier,” sê Dewald. Die tuine op die perseel is só uitgelê dat dit talle inheemse plante en bome akkommodeer en ‘n gevoel van ongerepte natuur skep.

Dewald laat die aap uit die mou (op Get It se aandrang!): “Die Venters beplan om die boonste vlak van die huis in ‘n Bram Fischer-museum te omskep en die perseel as ‘n amptelike erfenisgebied te klassifisieer.” Die museum-gedeelte sal ook as ‘n konferensiekamer gebruik kan word. Daar is reeds twee klein konferensiekamers in die huis wat gebruik word vir groepe van ses tot agt mense. Die hotel is ook die perfekte ligging vir intieme troues of private gesellighede. “Ons bied ook spesiale bruidspakkette en wittebroodopsies wat ons gaste se behoeftes pas,” sê Dewald. Pryse en dienste kan vooraf met die hotelpersoneel bespreek word.

Een van die grootste voordele van ‘n kuiertjie by die Royal Fischer Hotel, is Sjef Harry Coetzee se absoluut lipleklekker-disse. Hy bied drie- óf vyfgang-aandetes aan wat gaste in die huis se amptelike eetvertrek of in hul kamers kan geniet, asook ‘n heerlike driegang-ontbyt. Get It kan daarvan getuig dat Sjef Harry se kos ‘n magiese ervaring op sy beste is. Ons is bederf met heerlike beesrib, eiervrug en wortelpuree vir aandete en ‘n ontbyt met salm, ‘n verskeidenheid kase en koue rooivleise. ‘n Volledige Engelse ontbyt kan ook genuttig word.

By die Royal Fischer Hotel voel dit asof jy kilometers buite die gedruis van die stad asemhaal, dog is dit ‘n klipgooi van Bloem se sakekern en woonbuurte af geleë. Die veiligheid van die landgoed is ‘n luukse wat jy nêrens anders in Bloemfontein kan ervaar nie, en die natuurskoon en wandelpaadjies maak daarvan ‘n perfekte natuur-wegbreekbestemming.

Die hotel bied ook spesiale pakkette vir paartjies wat naweke daar wil oorbly of selfs net ‘n maaltyd geniet. Gaste kan ook op aanvraag bederf word deur ‘n wildrit deur die landgoed.

Get It kan met absolute oortuiging getuig die Royal Fischer Hotel ‘n luukse wegbreekbestemming is wat jy eenvoudig op jou emmerlys móét hê. Hier ervaar jy ongekende diens en word jy behoorlik gepamperlang. Beveel dit gerus vir gaste aan wat Bloemfontein van ver af kom besoek.

 

Skakel die Royal Fischer Hotel by 051 433 7977 of besoek hulle aanlyn by royalfischer.com.

Foto’s: Johan Pretorius

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.