Get to Know

Frank Spillman vat vlam!

Frank Spillman vat vlam!

Frank Spillman is die toonbeeld van gesondheid, lewenslus en passie. En natuurlik is hy ook sag op die oog! Hierdie sexy Bloemfonteiner is vuur en vlam vir die wêreld van fiksheid, musiek en modes.

Frank, vertel ons eerstens meer oor jou agtergrond – jou grootwordjare, swotjare, ens.

Ek is in 1985 in Bloemfontein gebore waar ek grootgeword het en die voorreg gehad het om my skoolloopbaan aan
Grey-kollege te voltooi. Ek het aan verskeie sportsoorte deelgeneem, onder meer rugby, atletiek en waterpolo. Nadat
ek in 2003 gematrikuleer het, het ek my studies in Bemarking aan Kovsies begin. Gedurende hierdie tyd het ek
meer betrokke geraak by sport en ‘n rugbyafrigter geword by Grey-kollege. Ek het in dié tyd besef dat ek ‘n passie het vir die gesondheidsbedryf. Dit het daartoe gelei dat ek ‘n internasionale kwalifikasie (van die VSA) as persoonlike afrigter voltooi het by wyse van korrespondensie.

Hoe het jy betrokke geraak in die modelwêreld?

Om eerlik te wees, het ek nooit eens daaraan gedink om deel te word van die modelbedryf nie. Ek was gelukkig genoeg om raakgesien te word deur die organiseerder en bestuurder van Mnr. Suid-Afrika in 2011. Die res is
geskiedenis…

Jy was in 2012 ‘n finalis vir Rapport se Model van die Jaar-kompetisie…?

Ja! Ek was gekies as die November-finalis vir die kalender wat ‘n paar weke later in Mauritius geskiet sou word! Wow. So is ek saam met die elf ander mansfinaliste, asook 12 meisies, op ‘n onvergeetlike avontuur na Mauritius. Dit was ‘n onvergeetlike ervaring en ek is vandag nog in kontak met die ander finaliste.

Wat is jou huidige werk?

Ek werk tans as ‘n gesondheid- en fiksheidspesialis by die Atlantic Spinal and Joint Health Centre in Seepunt, Kaapstad. Die praktyk bestaan uit ‘n ongelooflike span, waaronder ‘n chiropraktisyn, fisioterapeute en ‘n sportmasseuse wat fokus op die behandeling van verskeie soorte beserings. Ek sien ook om na kliënte wat met spierwanbalans sukkel, wat ek met korrektiewe oefeninge rehabiliteer. Dit is ‘n voorreg om al vir 12 jaar my grootste droom te kan leef en mense deur oefening te kan help. Ek is ook deeltyds by die modelagentskap, Ergosport Models, en in my vrye tyd deur die dag werk ek soms aan advertensies.

Hoogtepunte in jou loopbaan? 

Nadat ek as Model van die Jaar aangewys is in 2012, was dit nie lank voordat geleenthede my na die pragtige
Moederstad gelok het nie. Ek het in 2013 die titel gewen as die Muscle Evolutiontydskrif se ”Best Body” en my eerste
borgskap van twee jaar van USN Supplements ontvang. Dit was ‘n wonderlike eer om toe as USN-fiksheidsmodel Suid-Afrika te verteenwoordig op die wêreld se grootste “‘International Body Power Expo” in Birmingham, VK. Ek kan wel noem die belangrikste vir my nog altyd was, en sal altyd wees, om ander te help.

Watter aspek van die fiksheidswêreld is uitdagend, en wat is bevredigend?

Dis uiters uitdagend om elke liewe dag ‘n voorbeeld te wees en te motiveer ten spyte van hoe ek voel. Om dissipline
te handhaaf in my persoonlike lewe en te hou by soms moeilike oefentye. Dit is uiters bevredigend om almal wat
gewillig is, te help en te inspireer om die beste te wees wat hulle kan wees.

Wat is jou drie belangrikste wenke om ‘n gesonde, goed-versorgde voorkoms te handhaaf?

1. Handhaaf goeie eetgewoontes. Hou jou maaltye klein en eet gereeld genoeg.

2. Oefening. Die belangrikste punt hier is KONSTANTE verandering! Dit geld vir hoe jy oefen, asook wat jy eet. Ons
liggame is gemaak om aan te pas, so as jy dieselfde oefeninge doen, of dieselfde eetplan vir te lank volg, sal jy stagneer.

3. En my persoonlike gunsteling… POSITIEWE DENKE! Elke kliënt of pasiënt wat by my oefen, weet al ek verbied negatiewe opmerkings oor hul voorkoms of oor hoe hulle voel, as dit sleg is.

Is daar iemand spesiaal in jou lewe?

Ja, en sy het die mooiste blou oë… my kat! He-he.

Wat is jou guilty pleasure?

Sonder balans maak ‘n gesonde leefstyl nie sin nie. Ek bederf myself af en toe met ‘n pizza, en ek is versot op M&M’s.

Wat doen jy om te ontspan?

Ek hou van avontuur en is gereeld op soek na iets wat ek nog nie gesien of beleef het nie. Ek het veral ‘n voorliefde
vir skubaduik. Andersinds is ek ook ‘n DJ en produsent wat musiek maak. En omdat ek kunstig is, bly skilder en
meubelontwerp vir my ‘n stokperdjie.

Watter waardevolle lesse het jy geleer in die reis na ‘n gesonde en fikse leefstyl?

Om balans te vind was ‘n harde leerskool vir my. Dis ongesond om enigiets te oordoen. Ek bly weg van produkte wat ek nie ken of verstaan nie, want ek weet my liggaam het dit nie nodig nie. Onthou, jou liggaam is NET joune, so dink altyd mooi en kry professionele advies. Laastens sou ek sê, is rus ‘n baie belangrike faktor. ‘n Mens werk soms te hard, en dit kan die liggaam erg benadeel.

Het Bloemfontein steeds ‘n spesiale plek in jou hart?

Bloemfontein sal altyd spesiaal wees te danke aan vriende, familie en my skool. En ek ondersteun steeds die Cheetahs!

Hoe lyk ‘n tipiese dag in jou lewe?

Ek word altyd minstens ‘n uur wakker voordat ek my eerste kliënt sien, om te sorg dat ek vars en gefokus is voordat
ek die dag begin. Dan, natuurlik, ‘n sterk beker koffie! Wanneer ek by die praktyk aankom, pak ek my gym reg vir
die dag. Voorbereiding is belangrik as ‘n mens rehabilitasie doen. Ek oefen in die middag laat. As die weer dit toelaat – ek is 50 m van die promenade af – draf ek langs die see af. Ek ontspan dan in die aande, doen bietjie werk, of kyk graag ‘n fliek om af te skakel.

Wat maak jou gelukkig?

Musiek. Oefening. Lag saam met vriende. Road trips.

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.