People

Ryk Neethling – Bloem se Rykdom

Ryk Neethling – Bloem se Rykdom

Hoewel Ryk Neethling reeds sy merk in die wêreld gemaak het, bly hy vir Bloem se mense een van hul eie. Hy gesels met Get It oor sy gesin, sy ideale en sy stokperdjies.

Vir ‘n man wat al so baie internasionale sportprestasies behaal het (waaronder ‘n goue Olimpiese medalje) én suksesvolle sakeman is, is dit vir Ryk bykans ‘n voltydse ‘werk’ om te keer dat die media en paparazzi hom nie om elke hoek en draai bestorm nie.

Maar Ryk doen dit met grasie. Sy diep, sielvolle oë vertel ‘n bietjie meer as wat sy woorde doen. Hy vertel dat Bloemfontein altyd sy tuiste sal bly. Hy praat gereeld met trots oor sy skooljare op Grey-kollege en sy kinderjare in sy
ouerhuis in Waverley saam met ousus Elsje Neethling en kleinsus Jean-Marie Stander. “Ek verlang vreeslik na Bloem wanneer ek nie hier is nie. Ek probeer een keer ‘n jaar in Bloemfontein kom. Ek sal altyd ‘n Vrystater bly.”

“Ek is baie dankbaar vir waar en hoe ek grootgeword het. Ek was omring deur mense wat my ondersteun het en my
uitgedaag het om groot te droom. Ek sou niks wou verander nie.” Ousus Elsje is as kind met kanker gediagnoseer, wat die drie sibbe se band nóg stywer gesmee het. Elsje is ‘n bekende joernalis, motiveringspreker en kunstenaar, wat haar kuns enmenseverhoudings gebruik om haarself en ander te inspireer. Sy het ook ‘n boek geskryf, Ek droom van ‘n droom. “Ons is deur moeilike tye as ‘n gesin met Elsje se siekte. Elsje is basies die teenoorgestelde pool as wat ek is, maar sy is die sterkste persoon wat ek ken. Ek is bitter lief vir haar.”

Sy bors swel as hy oor kleinsus Jean- Marie gesels. Dié is ‘n prokureur en woon saam met haar man, rugbyspeler CJ Stander, in Ierland. “Ek is verskriklik trots op Jean-Marie se prestasies en wat sy en CJ tot dusver vermag het in
Ierland.”  Oor hul ouers sê Ryk: “My ouers is ongelooflike voorbeelde vir ons.”

Almal ken Ryk vir sy swemprestasies, maar nie almal is bewus dat hy ‘n man met vele sake-talente is nie. Hy
is onder meer tans werksaam by die Val de Vie Wine & Polo Estate in die Kaap. Maar hy hou hom besig met
talle ander ondernemings – dit alles terwyl hy met sy voete plat op die aarde staan. “Ek is maar net deel van ‘n goeie span. Ons het onlangs die Pearl Valley Gholf-landgoed ook gekoop en by Val de Vie ingelyf. Dit het my baie besig gehou.” Met die eiendomverkope gaan dit uitstekend, en hulle is ook besig om ‘n aftreeontwikkeling te loods. “Ons besit ook ‘n baie suksesvolle onderneming, Cape Winelands Properties, en het onlangs nog grond in die Paarl en in Kaapstad gekoop om te ontwikkel.” Verder het Ryk ook ‘n paar swemskole, is agent vir Olimpiese swimmer, Cameron van der Burgh, en hy hou hom baie besig met liefdadigheidswerk.

Ek was omring deur mense wat my ondersteun het en my uitgedaag het om groot te droom.

Sy inlywing in die wynbedryf het op ‘n goeie tyd in sy lewe gekom. Hy is veral gek na die bemarkingsdeel daarvan.
“Ons wynbesigheid, Val de Vie Wines, is ‘n belangrike deel van ons bemarking as geheel. Dit is ‘n baie kompeterende
besigheid en daar is verbasend baie oud-Grey-manne wat baie goed doen in dié bedryf.”

As professionele sportman kom harde werk vir Ryk natuurlik. Die jare van lang ure oefen (daagliks voor die son opkom), selfdissipline en deursettingsvermoë, baat hom vandag in sy loopbaan. “En die lesse wat ek geleer het toe ons in Athene as span gewen het, gebruik ek nog elke dag.”

Sy Ryk Neethling-swemskole (daar is talle franchises regoor die land) is goed op dreef. Die rede agter die stigting
hiervan, is interessant. “Ek het as kind amper verdrink by die kleuterskool. Dit is hoekom ek so passievol en ernstig
is oor waterveiligheid onder kinders. Swem is nie net ‘n sport nie, maar ‘n belangrike lewensvaardigheid. Elke
kind móét leer hoe om te swem en my swemskole poog om dit op die mees professionele manier moontlik te doen.”

As ‘n bekende sportheld is dit onvermydelik dat Ryk se private lewe dikwels in die kollig sal wees. Hy en die beeldskone Sahar Biniaz het onlangs hul verlowing verbreek. Dit is wyd in die media gepubliseer. Volgens Ryk
is dit verbasend dat enigiemand in sy lewe belangstel, en is dit nie altyd maklik om die lewe in die (soms wrede)
kollig te hanteer nie.

Ryk voel dat Bloemfontein meer as genoeg ontwikkelingsgeleenthede bied vir jong sportmanne en -vroue. “Bloemfontein is ‘n ideale plek vir ‘n jong sportpersoon om sy of haar talente te onwikkel. Die enigste ding
wat ons terughou is ons geloof in onsself. Ons hoef vir niks of niemand terug te staan nie,” meen Ryk. Hy gebruik sy vorige ervarings as professionele sportman om ander sportsterre se loopbane te help bestuur. Hy het, uit die aard van die saak, harde lesse geleer uit die bestuur van sy eie sportloopbaan. As ‘n resultaat hiervan, gee hy waardevolle wenke: “Dis belangrik om te fokus op jou eie ontwikkeling, en om nie vir jou opponent enige onnodige motivering te gee nie. Fokus daarop en geniet die proses, nie die uitkoms nie. Wees nederig en moet nooit stagneer nie.”

Ryk is deur verskeie publikasies as een van die land se sexyste mans beskryf. (Met goeie rede!) Ons wou by Ryk weet
of hy homself ook so sien. “Nee, glad nie. Dit is maar ‘n ding wat die media geskep het.”

 

Vinnige vrae

Waaroor is jy passievol? Suid-Afrika, Val de Vie, Grey-kollege, eiendom, sport, gesondheid, kinders, reis, kennis.

Wat maak jou kwaad? Politiek.

Wat is op jou wenslys? Ek wil my swaer sien speel in die 5 Nasie-reeks, of dalk hierdie winter in Nieu-Seeland die Britse Leeus. Ek wil ook graag Argentinië, die Karibiese Eilande en Alaska besoek.

Hoe lyk ‘n tipiese dag in die lewe van Ryk Neethling? Op ‘n ideale dag oefen ek lig in die oggend vir 20 minute en vir ‘n uur in die aand na werk, geniet ek ‘n lekker diverse dag by die werk en bring dalk ‘n bietjie tyd saam met vriende deur indien ek gelukkig is.

Watter raad sou jy vandag vir jou 18-jarige self gee? Ek het baie gehakkel toe ek op skool en universiteit
was. Dit het my verskriklik ontstel. Ek sou vir myself net gesê het, “RELAX”!

Jy het tog sekerlik ‘n guilty pleasure of twee…? Ek het n verskriklike soettand gehad maar eet/drink geen suiker sedert Maart nie. Ek geniet steeds nou en dan ‘n goeie wyn.

Waar in Bloemfontein eet jy die lekkerste hamburger? By die huis!

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.