Entertainment

Dít is waarna ons uitsien by vanjaar se Vrystaat Kunstefees!

Dít is waarna ons uitsien by vanjaar se Vrystaat Kunstefees!

Die Vrystaat Kunstefees begin oor ‘n week, en ons is buite onsself van opgewondenheid! Hier is ‘n handjievol van die magdom produksies en gebeurlikhede om na uit te sien…

Die tema van vanjaar se fees is “Tuiskoms”. Annalize Dedekind, Voorsitter van die Vrystaat Kunstefees se bestuurskomitee, skryf: “Huis is waar jou hart is, lui die spreekwoord. As jou hart in die kunste is, het jy pas tuisgekom. Want die Vrystaat Kunstefees is waar jy hoort.”

Meer oor die fees: Die Vrystaat Kunstefees is ‘n Afrikaanse taalfees wat kreatiewe kragte tussen Engels en Sotho kulture saamsmee. Die fees dra by tot die uitruil van idees rondom kuns, kultuur en die samelewing deur verbintenisse met ander nasionale en internasionale kreatiewe gemeenskappe.

Vanjaar se fees vind plaas vanaf 18 tot 22 Julie op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat wat vir die volle duur van die fees beskikbaar gemaak word.

Die fees bestaan vanjaar weer uit drie dele: die hooffees, die literatuurfees en die vrynge, wat vir opkomende kunstenaars ‘n platform bied om hul ding te doen.

 

Ons sien veral uit na die volgende produksies:

Buite land, met  Elize Cawood, Jacques Bessenger, Kopano Maroga, Ntombi Gasa, Mpume Mthombeni, Marvin-Lee Beukese en Musa Shozi.

Buite land is die nuutste drama deur die multibekroonde teatermaker en skrywer Neil Coppen, ontwikkel in vennootskap met die Markteaterstigting en die Royal Court in Londen. Jacques is ’n Afrikaanse narkotiseur en werk in ’n gemeenskapshospitaal in Pietermaritzburg. Sizwe is ’n Zoeloesprekende choreograaf, wie se voorvaders hom geroep het om ’n sangoma te word. Jacques en Sizwe ontmoet vir vlugtige seks, maar wat as ’n vlietende ontmoeting beplan is, verander in ’n diepsinnige reis na ’n verkenning van onsigbare bande wat tussen godsdiens en wetenskap, medisyne en geloof en onthou en vergeet bestaan. Benoem vir 6 Kanna-toekennings, KKNK 2017.

 

Gif / Poison / Ityhefu  met Atandwa Kani, Tinarie Van Wyk Loots.

“’n Man en vrou wat ’n kind verloor het, toe hulself en uiteindelik mekaar.” Ná baie jare van skeiding ontmoet ’n man en vrou weer by hul kind se graf. Hy het aanbeweeg en kyk vorentoe. Sy bly vasgevang in die verlede. Sal van ons grootste uitdagings ons op ’n pad van verdere hartseer en smart lei? Of kan hoop uit ons diepste emosionele pyn en onrus gebore word? Terwyl hulle die laaste oomblikke saam met hul geliefde onthou, neem die man en vrou hul eerste tree na versoening. Moontlik gemaak deur NATi, Vrystaat Kunstefees, De Koningkrijk der Nederlande, US Woordfees en KKNK.

 

Moedertaal, met Sandra Prinsloo.

Ná die ongelooflike sukses van Die Naaimasjien en Oskar en die pienk tannie keer Sandra Prinsloo terug na die verhoog in haar derde solovertoning, Moedertaal, ’n hartroerende verhaal van deernis, liefde en Afrikaans uit die pen van Nico Scheepers.

 

Klara Maas se hart is gebreek, ensomeer: Die vloeistoftrilogie, met Wessel Pretoruis en David Vivier

Twee reisende spelers, ’n verteller en handlanger (afgewater uit die Commedia dell’arte kader), skets drie verhale: die biografie van ’n traan, ’n liefdesdriehoek tussen matador, mantel en bul en ’n legendariese nag van passie. Wessel Pretorius en David Viviers keer terug met Klara Maas se hart is gebreek, plus twee nuwe verhale wat saam ’n trilogie oor lewensiklusse van drie hard-‘vogtige’-helde, vorm. Die eerste van dié drie verhale is as deel van die KKNK se eerste Uitkampteater-projek in 2016 met die Kanna vir beste debuutwerk bekroon.

 

Ag, kom ek val sommer met die HOLM in die huis, met Marion Holm.

Dit is Marion Holm se 14de solovertoning en hierdie keer praat sy nie nét bog nie, maar oor die feit dat géén mens se lewe immuun is teen pyn nie, maak nie saak hóé ryk of mooi of maer jy is nie. Sy klets oor prettighede soos siektes, ouderdom, swaarkry en leed – sonder enige lewenservaring, maar met baie humor. Hierdie mag dalk die meeste wees wat jy nog ooit gelag het oor swaarkry en swaar wees. As jy voel die druk word vir jou te veel, is hierdie vir jou – jy sal uitstap en baie beter voel oor jou swaar lewe.

 

Stiletto’s op die grondpad, met Hildegardt Whites.

Hilde se Hartsklanke op Via-kanaal het by duisende aanklank gevind. Soos ons die bekendstelling van haar eerste CD nader word ons meer bewus van die behoefte om Hilde se storie te vertel. Die musiek, haar grootword-jare in Nieuwoudtville en haar kronkelpad na sukses het duisende geïnspireer om hulle stories te begin deel. En so oud soos die San-rotskuns in die Kalahari, so oud is die stories wat ons saam met ons dra. Stilettos op die Grondpad verken Hilde se twee harte – een vir die Nama-taal, rieldans, ‘fyn-knyp’ musikante en die ander hart klop vir rooi Mac-lipstiffie en 6-duim Jimmy Choo’s!

 

Hans Haas en die heuningby, met Xander Steyn, Andrea van Tonder, Cézanne Yzelle, Blanche Botha, Charlene Taljaard, Ruhandré Donoghue, Lienka Stevens, Cara Stevens en Rianie Kriel.

Dit is die derde hoofstuk van dié gewilde kinderproduksie op die Vrystaat Kunstefees! Dit is gelaai met pret en ’n nuwe karakter uit die pen van Xander Steyn. Die storie is vol lesse en snaaksighede vir almal. Morrie die Meerkat is weer besig met ‘meerkattekwaad’ en Hans en al die ander diere moet weer planne maak om die dag te red! So, wees gereed vir groot pret, groot kostuums en groot akteurs in hierdie jaar se blou-haas-produksie van Xander Art Productions.

 

Laai jou volledige feesprogram hier af, en lees meer oor die Vrystaat Kunstefees hier.  Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

 

Get It Bloemfontein September 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.