Kids

Lani Skryf… Die Tweede Groot B

Lani Skryf… Die Tweede Groot B

Op 18 Januarie 2016 het ons ‘n pragtige seuntjie ryker geword. Dis sover ‘n wonderlike, moeilike, pragtige, uitputtende op-en-af-rit, wat ons vir niks in die wêreld sal verruil nie. Van 18 Januarie 2018 af, doen ons dit alles weer oor.

Dis ‘n sonnige Vrydag-wintersoggend op my afdag, en ek en my woelwater Wiankind is alleen by die huis in ons pajamas. Dis 8:00 en in die kombuis lees Lenne die nuus op OFM. Ek het my man vroegoggend afgesien met sy guns, ‘n toksak vol balaklavas en musse en ‘n vles vol koffie. Hy gaan die naweek jag saam met vriende. Terwyl ek vir Wian sy gunsteling WeetBix met amandelbotter voer en hy dit laggend die wêreld vol spoeg (een van die wonderlike nuwe vermoëns wat hy onlangs aangeleer het), dink ek aan my droom van gisternag. Ek hou ‘n piepklein, donkerkop baba toegedraai in ‘n pienk kombers in my arms. Is dit ‘n teken? Wian gesels en beduie dat die pap so spat.

‘n Ou piepietoetsie maak sy verskyning vanuit ‘n diep, deurmekaar gangkas. Een duidelike strepie, en ‘n bitter dowwe tweede een. Hmm, wonder ek. Ek en my pantoffels en Wian is onmiddellik apteek toe vir nog twee piepietoetse. Duurderes, die slag. Ek drink water by die liters.

Jou wrintiewaar. Twee duidelike strepies en die woordjie PREGNANT op die ClearBlue toets. Ek glimlag en stort ‘n traan. En watssap my man – Wian gaan ‘n ouboet word. (Looking back was dit seker nie die mees spesiale manier waarop en die nuus kon breek nie.)

Van week 5 tot 13 voel ek eenvoudig goor. Geen pregnancy glow nie. Naar, moeg, emosioneel, hartseer, kwaad, moeg, en weer naar. Ek het geen behoefte om baba items te koop nie. (Vreemd, ne?) Ek’s nie opgewonde nie. Ek worry oor alles. Ek worry oor ek nie genoeg voedingstowwe in my bloed het vir die arme bloedjie nie. Want sodra dit in my mond is, sê my lyf onmiddellik “NEE!! BASTA MET JOU, TUNA BROODJIE!!” en uit is hy. Ek worry of ons nog ‘n kind kan bekostig. Ek worry oor die eerste keer wat Wian die klein babatjie gaan klap. Ek worry oor my vermoëns om ‘n ma van twee te wees – wat op hierdie stadium eerder soos onvermoëns voel.

Ek slaap op my lessenaar by die werk. Ek slaap tydens my etensuur in die kar. Ek huil vir ‘n video op Facebook van ‘n rondloperkatjie wat deur weldoeners gered is. Ek’s oortuig dat daar ‘n spesiale VIP hemel vir daardie mense is. Ek dink aan die min pêrels wat ek in Jesus se kroon gaan kry vir my moodiness en ondankbaarheid die afgelope paar weke. Ek’s byterig. Ek sien die negatiewe. Ek gooi op en vloek gelyktydig. (Ja, dit is moontlik). Ek maak nie aandete nie en skel my man omdat ek nie aandete gemaak het nie. Ek probeer kinderliedjies vir Wian sing terwyl en plat op die mat lê in ‘n poel selfbejammering. Hy eet vier dae ‘n week visvingers vir aandete en ek vergeet soms om sy hare te was. Ek huil weer.

Op week 13 sien ons weer ons boontjie (dis wat ons hom/haar noem) op die sonar. En alles raak van daar af beter. Die naarheid verdwyn so effe. Ek eet weer. (ek het nou baie om in te haal – gee pad!) Ek kan weer saam met Wian bal skop en my man eet nou dalk 4 uit die 7 aande huiskos. Maar die lekkerste van alles – ek begin opgewonde raak. My man sê benoud: “Wat as dit ‘n dogtertjie is?? Ek weet nie wat om met ‘n dogtertjie te maak nie.” Hy sal gou moet leer, dink ek by myself, want ek het ‘n wille gevoelentheid dat ek hierdie keer ‘n pienk kombersie sal moet koop.

Oor een ding is ek nog onseker: Waar kry ‘n ma liefde vandaan vir NOG ‘n kind? Wian het my hele hart. Kan ‘n mens wéér so heelhartig liefhê? Is dit moontlik?

Wel, vir nou weet ek dat dit moontlik is om 17 soutkoekies met ‘n dik laag Bovril elk in 5minute te eet en stééds Salt and Vinegar Pringles te crave.

Boontjie se due date is op Wian se verjaarsdag – 18 Januarie. (Ek’s sleg met baie dinge, maar beplanning is nie een van hulle nie. Hehe.)

 

Tot later,

Lani x

 

Get It Bloemfontein September 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.