Get to Know

Op ‘n nuwe noot met Caroline-Grace Brüssow

Op ‘n nuwe noot met Caroline-Grace Brüssow

Eers het Karen Zoid gedink sy is ‘n “Barbie” wat nie baie ver gaan kom met haar sangtalent nie. Toe kom wys die liefdevolle, saggeaarde Caroline-Grace Brüssow ons met The Voice uit hoeveel staal sy régtig gemaak is.

Trotser kan Bloem nie wees as op ons eie skoonheid met die goue stem nie. Caroline-Grace (31) het verlede maand in die top 4 van die M-Netprogram, The Voice, geëindig. Sy het kykers gedurende die reeks keer op keer verras met haar sterk stem, bekoorlike teenwoordigheid op die verhoog en sprankelende persoonlikheid.

Hoewel kykers regoor die land haar leer ken het in skitterblink rokke, perfekte grimering en gemanikuurde naels, is
die ware Caroline ewe gemaklik in ‘n sweetpak en tekkies met haar lang, heuningblonde hare in ‘n eenvoudige
poniestert vasgebind. Dít is die Caroline-Grace wat Get It ‘n hele paar jaar gelede leer ken het by haar ouerhuis in Westdene tydens ‘n glansryke fotosessie en onderhoud as opkomende kunstenaar.

Caroline-Grace vertel nou dat sy dankbaar is vir elke oomblik wat sy op die stel van The Voice kon deurbring, omdat dit soveel waarde tot haar lewe en loopbaan gevoeg het. “Ek het soveel opgeoffer om deel te wees van The Voice en van die begin af was dit my doelwit om net my beste te gee en dit week vir week te vat. Dit was uiters harde werk
en net ongelooflike ondersteuning en genade van Bo het my tot in die finaal gebring. Ek was geseënd om soveel
liefde en ondersteuning te ontvang van die publiek.”

Caroline-Grace het aan Eunice gematrikuleer, waarná sy Regte studeer het aan die Universiteit van die Vrystaat.
In hierdie tyd het sy aan al wat revue is deelgeneem, koor gesing en hoofrolle in plaaslike musiekblyspele losgeslaan.
Sy het in 2005 die sangkompetisie Spontaan gewen, wat soveel deure vir haar oopgemaak het. Sy het by gesellighede en troues begin sing, en is as ‘n sleutelsanger in die bekende musiekgroep Arco Musica, opgeneem. “My goeie vriend en ongelooflike sanger, Corneil Muller, het ook ‘n massiewe deel van my sangsukses uitgemaak en het gehelp dat ek my passie meer kon uitleef. Bloemfontein het vir seker van die beste talent.”

Sy is in 2013 met haar skoolliefde, die bekende rugbyspeler Heinrich Brüssow, getroud. “Ek was van die begin smoorverlief op Heinrich en ek het geweet hy is die een vir my – die een met wie ek wil trou.” Haar huwelik met Heinrich het haar ook al op verskeie wêreldreise geneem, waarvan die mees onlangse na Japan was, waar hulle semi-permanent gevestig is terwyl Heinrich daar klubrugby speel. Daar moes Caroline woeker om haar passie vir musiek aan die gang te hou en het sy dikwels by onthale en restaurante gesing. Dit bly vir haar ‘n unieke land en ervaring. “In Japan word niks vir jou gedoen nie! Elke dag is ek opnuut dankbaar vir my ma en vir ons huishoudster, Rebecca… stofsuig, skottelgoed, badkamers, wasen stryk, kosmaak – dit doen ek self. Japan is nie vir sussies nie.” Sy en Heinrich besit ook ‘n gastehuis in Bloemfontein, Abiento Guest House, waarvan sy die finansies bestuur vanuit Japan. “Ek het ook vir ‘n tyd lank Engels gegee by ‘n internasionale skool. Dit was ‘n heel ander uitdaging.”

Sy was tot onlangs kandidaat-prokureur by die firma Phatshoane Henney Prokureurs, en beplan om nie haar
opleiding in regte vir ewig onder die maatemmer te verbloem nie. Haar fokus is egter eers op haar sangloopbaan,
omdat dit haar groot liefde is. “Nou, na The Voice, wil ek net graag sing, sing en nogmaals sing. Ek hoop om ‘n pad saam met Universal Music te kan stap en my eerste album op te neem. Daarna wil ek graag met my musiek toer, en wie weet, dalk betree ek die internasionale mark!”

Die oomblik toe ek myself weer gevind het met Roxette se ‘It must have been love’, is my gunstelingherinnering.

Die mooste herinneringe aan The Voice wat Caroline-Grace saam met haar neem, is die liefde wat sy van almal op
die stel ontvang het. “Van die bekwame koffiemakers tot die topbestuur. Almal is passievol oor hierdie produksie. Die vriendskappe wat ek gevind het – my hart bars sommer! En die oomblik toe ek myself weer gevind het met Roxette se ‘It must have been love’, is my gunstelingherinnering.”

Caroline-Grace se pa het, ten spyte daarvan dat hy baie siek is aan kanker, haar ondersteun waar hy kon. Hy was
ook tydens haar laaste vertoning in die gehoor. Hieroor is sy emosioneel. “My pa is totaal en al my hero. Hy is ‘n vegter. Om  hom in die gehoor te kon sien, is ‘n gawe van God en ek weet ek gaan nog baie lank vir hom kan sing!”

Die swaar houe van kritiek is ongelukkig deel van ‘n talentkompetisie van hierdie aard en het vir Caroline-Grace baie
waardevolle lesse geleer. “Sosiale media kan ‘n groot impak hê op jou karakter en menswees, as jy dit toelaat. Ek moes weeekliks sterk staan en aanhou glo in myself en myself herinner aan hoekom ek daar was.”

Met dit wat sy in haar lewe tot dusver geleer het, kan sy waardevolle raad aan jong meisies met groot drome gee:
“Vertrou op God. Hy is jou begin en einde – deur Hom kan jy sukses bereik. Glo in dit wat Hy van jou dink en nie wat
die wêreld van jou sê nie.”

Caroline-Grace se skoonheidsgeheime:

  • Slaap genoeg!
  • Suiker is regtig sleg vir jou. Maar jy mag vir seker af en toe ‘n sny koek saam met ‘n vriendin geniet.
  • Was altyd jou gesig voordat jy gaan slaap en gebruik ‘n goeie vogroom om jou vel te voed.
  • Volg ‘n gesonde oefenroetine om ontslae te raak van spanning.
  • Geniet tyd saam met vriende en familie wat jou laat lag.

 

Foto’s: Juan Pinnick Photography.

Grimering: Karlé Make Up Artistry.

Hare: Le Studio Coiff .

Rok: Stanley Baptise

 

Get It Bloemfontein September 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.