Entertainment

Annari Breed se musiek is ‘n wêreldtaal

Annari Breed se musiek is ‘n wêreldtaal

Oud-Bloemfonteiner, Annari Breed, se fluweelstem is nie net in SA bekend nie, maar klink op in België en Londen. Ons gesels met dié berese musikant oor haar wêreldreise en eklektiese musiekstyl.

Niks aan Annari is aangeplak nie. Sy’s ‘n oop boek – reguit en eerlik. Net so met haar musiek. Haar lirieke is diep en praat met mense op ‘n intieme vlak. Sy oorbrug die taalgaping en bring met haar melodieë en woorde musiekliefhebbers uit alle oorde bymekaar.

Annari is een van min Suid-Afrikaners wat onlangs deur Vlaandere getoer het met haar Afrikaanse album, Susanna
my Geliefde. Die doel van haar optredes was om internasionale begrip van die Afrikaanse kultuur te bevorder. Dít klink na ‘n tall order. Maar vir Annari is dit ‘n droom wat sy nagejaag het, saam met mede-kunstenaar (en kleinneef) DuPreez Strauss. “DuPreez het bande met die FAK en die VZACS (Vlaams-Suid-Afrikaanse Kultuurstigting) en hy het my in kontak gebring met hulle. Nadat hulle my musiek gehoor het, het hulle besluit om my te ondersteun om deur die Laaglande te toer.”

Dit was en is ‘n groot passie van haar om die Afrikaanse taal in die Vlaamse lande te bevorder – en sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt. “My en DuPreez se musiek is luistermusiek, simbolies en baie beskrywend. Die lirieke skep beelde en dit is interessant vir iemand wat die taal kan verstaan, maar nie daardie selfde beelde ken of as deel van hul paradigma het nie.” Annari verduidelik dat juis dít ‘n belangrike aanknopingspunt is. Sy sê jy

kan met iemand praat in jou moedertaal oor jou kultuur en hulle wíl luister omdat musiek harte en ore kan oopmaak. “Dis amper asof mens direk met die onderbewussyn praat.” Hierdie is egter nie Annari se eerste toer
na die buiteland nie. Nadat sy vir drie jaar arbeidsterapie aan Kovsies studeer het, het sy besluit om vir die behoud van haar emosionele welstand die land te verlaat. “Ek het op 21 na Londen vertrek om te swot vir ‘n interieur-ontwerper, en in daardie tyd het ek myself onderhou deur teëls te lê en basiese loodgieterswerk te doen.” Sy is kort daarna met ‘n Skot getroud en het saam met hom gewoon en gewerk, eers in Londen en toe in Cambridge. Sy het aanhou musiek maak en was ‘n gereelde musikant in pubs en op die radio. Maar haar huwelik eindig in 2010, en in 2015 keer sy terug na Suid-Afrika om Susanna my Geliefde te kom opneem, asook vir SUATWAY (haar Engelse
album). “Toe bly ek op die ou einde. Dit is ongelooflik lekker hier. Ek kan nie vir julle verduidelik hoe ‘n ongelooflike
land hierdie is waarin ons woon nie. Ek is tans woonagtig in Pretoria.”

Haar Vlaamse toer saam met DuPreez was egter haar heel eerste Europese ervaring. “Die feit dat ek dit saam met my bitter goeie maatjie, DuPreez, kon aanpak, het dit natuurlik vars en heerlik gemaak. Ek het sonder verwagtinge gegaan. Behalwe dat dit lekker en verrykend moes wees.”

Die noodlot het Annari en DuPreez se paadjies laat kruis, en dié twee maak saam pragtige klanke. Hulle het albei
in Bloemfontein grootgeword. “My pa en sy ma was neef en nig. Hy was op Jim Fouché en ek in Sentraal. Ons het
mekaar egter nie daar behoorlik leer ken nie. Eers jare later, in Londen, het ons mekaar raakgeloop en uitgevind ons is sielsmaatjies.”

Annari en DuPreez vul mekaar op fassinerende wyse op die verhoog aan. Hulle maak hoofsaaklik Engelse pop/
dansmusiek saam (wat later vanjaar as ‘n volle album vrygestel gaan word), maar as dit kom by Afrikaanse musiek is hulle nie betrokke by mekaar se skeppingsproses nie. “Hy het sy eie liedere en ek het myne. Maar as jy ons saam luister op die verhoog, sou jy dink ons het lank gesit en werk om mekaar so goed aan te vul. Hy is ‘n ligter-van-gees-mens as ek. Maar ons is twee dele van dieselfde muntstuk, so dit werk net,” sê Annari.

Haar musiek is eerlik. Dit is nie ‘n hoogs geproduseerde klank nie. “My stem klink net soos wat jy dit op die verhoog sou hoor en die orkestrasie is gebou om die lirieke en melodië te ondersteun.”

Daarom, meen sy, is dit luistermusiek, en nie regtig agtergrondmusiek nie. As jy jou oë toemaak en toelaat dat die woorde vatplek vind, is dit onmoontlik om nie op reis saam met haar te gaan nie. Annari se liefde vir musiek spruit uit haar vroegste kinder-herinneringe met haar ouers as groot bydraers. Sy het haar eerste liedjie reeds op 13 geskryf.

“My ouers het  my van vroeg af baie aan goeie musiek blootgestel. My ma het my na ballet- en simfoniekonserte in die Sand du Plessis teater en die Odeion geneem. Dit het my elke keer weggeblaas.” Haar ma is ook ‘n baie goeie trekklavierspeler, hou van sing en speel ook mooi klavier.

Haar pa het haar van kleins af ‘n liefde en waardering vir klassieke musiek geleer. Annari hoop om binnekort na haar
tuisdorp terug te keer waar sy bitter graag met haar nuwe liedjies wil kom toer. Sy is tans besig om nuwe Afrikaanse opnames te maak waaroor sy baie opgewonde is. “Die nuwe musiek het ‘n ander, meer opgeruimde inslag.” Hierdie nuwe liedjies gaan stuk vir stuk vrygestel word oor die volgende paar maande, in plaas van ‘n volle album, en handel meestal oor onderwerpe waaroor sy passievol is, soos hoop, liefde, vasbyt, en keuses.

Sy werk ook aan ‘n Engelse album wat in Maart 2018 vrygestel gaan word en waarmee sy deur Engeland en dele van Europa sal toer.

Vind meer uit oor Annari en haar musiek deur haar webblad te besoek by annari.co.za.

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.