Décor & Gardening

Dis blomtyd in die lewe van Bloem-skoonheid Chané Nel

Dis blomtyd in die lewe van Bloem-skoonheid Chané Nel

Dis blomtyd in die lewe van die borrelende blondekop, Chané Nel. Haar lewe – liefdes, passies, swaarkry en vreugde – vind vergestalting in haar asemrowende blommerangskikkings.

As sy opgeruimd is, vind jy Chané (31) tussen haar blomme. As sy bedruk, kwaad of hartseer is, is sy omring deur blomme. Sy skerts met haar Engelse sêding (maar is terselfdertyd dood ernstig): “I inhale life and exhale flowers. Alles wat ek is en doen, leef ek uit in blomme. Blomme is lewend. Ek hou nie net van blomme nie – ek gló in blomme.”

As een van die gewildste bloemiste in die Rosestad is Chané haar sout werd en verander sy die vaal wêreld rondom haar met haar kleurkunstige blomhande. Chané het in Bloemfontein grootgeword en in 2004 aan die Hoërskool
Jim Fouché gematrikuleer. Haar grootwordjare was reeds besaai met blomme. “My pa het destyds sy werk verloor en het besluit om met sy pakket ‘n bloemistewinkel in die middestad te koop.” Chané se ma het die onderneming bestuur en deur die jare nóg takke geopen, totdat hulle hul uiteindelik in die Life-Roseparkhospitaal as Rosepark Bloemiste gevestig het. Chané het tot onlangs saam met haar ma daar gewerk, maar was grotendeels verantwoordelik vir troues en onthale.

“Dit was tyd om my vlerkte te sprei en weg te breek,” vertel Chané blinkoog. Daarom maak sy nou Room of Bloom
oop op die perseel van Warm Karoo, waar sy bruide konsulteer. Sy en haar goeie vriendin, Ronel le Roux (‘n bekende
grimeerkunstenaar en stileerder), gebruik dieselfde werksoppervlakte en vind inspirasie by mekaar.

Maar blomme is nie al wat Chané laat tiek nie. Toe sy na skool moes besluit wat sy wil studeer, het sy geweet dat sy iets met troues te doen wil hê en dat sy haar hand aan die kreatiewe sy daarvan wil waag. Sy het tot in 2009 mode-ontwerp studeer en het daarna klas gegee by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie. Oor naweke en vakansies het sy in die blommewinkel gewerk. “Ek sien al blomme my hele lewe lank. Ek’s nog altyd omring daardeur. Blomme voel vir my natuurlik,” sê sy.

Hoewel sy die wêreld van mode-ontwerp betree het, kon sy steeds nie van haar oorweldigende liefde vir blomme
ontslae raak nie. Sy het selfs in 2013 vir haar modestudente ‘n blommekursus aangebied. “Alle vorme van kuns en skepping is inmekaar geweef, as jy mooi daaroor dink. Dis ‘n universele taal. Of jy modes ontwerp, blomme rangskik, verf of musiekmaak – dis alles ‘n kreatiewe uitlaat. Die proses is dieselfde, die medium verskil net.”

In 2013 wend sy haar suiwer tot die blomwêreld en laat die modes vir eers agter. Wat haar van hierdie beroep aantrek, is die onmiddellikheid daarvan. “Wanneer jy ‘n rok ontwerp, is dit ‘n lang, gedetailleerde proses totdat jy uiteindelik die meesterstuk op die einde kan aantrek. Blomme is onmiddellik. Jy kan nie langer as 48 uur voor die troue of onthaal aan die blomme begin werk nie. Ja, jy kan jou beplanning doen, maar die regte werk begin kort voor die tyd en dit móét eenvoudig betyds klaarkom! Ek lééf vir daardie adrenalien.”

Chané glo dat blomme ‘lewe’ en dat enige emosie deur ‘n blom verbeeld kan word. “Blomme praat anders met elke
persoon. ‘n Spesifieke blom, of die reuk van ‘n blom, kan ‘n baie sterk emosie by ‘n mens ontlok. Blomme bring liefde, geluk en vreugde. Dit is ‘n alomvattende sensoriese ervaring wat oral in die wêreld dieselfde taal praat.” Chané se gunstelingblom is ‘n pronkertjie, omdat dit ‘n sterk herinnering oproep aan haar kinderdae.

“Ons laerskool was basies omring deur ‘n bedding van pronkertjies. Elke jaar, nog voordat dit amptelik lente was, het die pronkertjies begin blom, en kon ‘n mens die verandering in seisoen in die lug ruik terwyl dit nog op pad was. Dis ‘n baie spesiale herinnering.”

Get It wou by Chané weet wat haar stokperdjie is wanneer sy haar nie met blomme besig hou nie. “Dis snaaks dat jy vra… ek kan my nie van blomme losmaak nie. Wanneer ek nie met blomme werk nie, teken ek blomme of ek lees poësie oor blomme.”

Hoewel dit vir Chané ‘n absolute plesier is om met bruide se uiteenlopende style en voorkeure te werk, erken sy dat dit uitdagend kan wees om die spyker op die kop te slaan vir daardie spesifieke bruid se droomtroue. “Ek moet regtig mense kan lees en myself in hul skoene plaas om te kan bepaal presies waarvan hulle sal hou.” Sy het die balans tussen haar eie kundigheid en die bruid se behoeftes bemeester en kan ‘n lieflike voorkoms opdroom vir elke aspek van die troue waar ‘n blom betrokke kan wees.

Room of Bloom is vir Chané ook simbolies van die nuwe fase in haar lewe. Sy sien dit as haar groeityd – haar blomtyd. Sy het nog altyd in swaar tye vertroosting in blomme gevind. Dit is nou tyd om ‘n nuwe, duidelike stempel in die troukringe van Bloemfontein af te druk en behoorlik te blom.

 

Fotograaf: Willem Janse van Vuuren

Grimering en stilering: Ronel le Roux

Uitrusting: Angels Boutique

Blomme: Chané Nel

 

Get It Bloemfontein November 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.