Get to Know

Maureen Oosthuizen het ‘n reuse hart van goud

Maureen Oosthuizen het ‘n reuse hart van goud

Honderde mense beleef daagliks Maureen Oosthuizen se liefde in die vorm van kospakkies, klere en komberse, maar min Bloemfonteiners ken haar regtig. Ons gesels met dié filantroop en stigter van Genade in Aksie.

“Ek het soveel binne-in my om te gee. My hart loop oor… dit sal ‘n sonde wees as ek dit vir myself hou.” ‘n Mens kan byna nie glo dat een vrou só ‘n absolute opregte, goeie hart het nie, en dat sy haar hande stompies sal werk vir die verligting van ander se swaarkry. Vir vreemdelinge, mense met wie sy geen verbintenis het nie. Dis ‘n tipe wérklike omgee wat uiters skaars is.

As ‘n jong, geskeide enkelma het Maureen meer as 30 jaar gelede die seer van swaarkry aan haar lyf gevoel. “Daar was aande dat my dogtertjie net vla vir aandete gekry het. Ons het kratte vir stoele gehad en het van dag tot dag geleef,” sê Maureen. Sy glimlag egter wanneer sy vertel hoe sy en haar dogter deur haar ouers ondersteun is deur die jare, en hoe sy haarself opgewerk het om ‘n goeie, vaste pos by Mediclinic Bloemfontein vir die afgelope veertien
jaar te kon hê.

Dis uit haar swaarkry-jare én haar ouers se lewenslange betrokkenheid by welsyn dat Maureen besluit het om haar voortdurende informele weldade vir liefdadigheid ‘n amptelike naam en struktuur te gee. Genade in Aksie is amptelik in 2012 geregistreer as ‘n nie-winsgewende liefdadigheidsorganisasie. “My ouers was vir 20 jaar aan die stuur van Meals on Wheels. Ek is grootgemaak met ‘n passie en omgee-hart vir minderbevoorregtes. Dis ‘n stempel van my ouers wat op my geplaas is.”

Ek het soveel binne-in my om te gee. My hart loop oor… dit sal ‘n sonde wees as ek dit vir myself hou.

Genade in Aksie is ‘n organisasie wat kos, klere en ander artikels aan behoeftiges in en rondom Bloemfontein skenk. “Ons doen ‘n deeglike behoeftebepaling om te verseker dat ons donasies aan gesinne en gemeenskappe gaan waar
daar werklik nood is,” sê Maureen. Sy maak hoofsaaklik staat op skenkings van individue en maatskappye. Fondse
is daar maar min van en koste verbonde aan hierdie weldade word dikwels deur Maureen persoonlik gedek. Wanneer daar wel geldelike donasies inkom, word dit aangewend vir die aankoop van kos, die betaling van haar twee werkers in Genade in Aksie se stoorkamer, of mediese dienste aan behoeftiges. “Daar is dikwels kindertjies wat siek is of dringend by ‘n tandarts moet uitkom, maar wie se ouers nie die vermoë het om dit te doen nie. Ons het ‘n wonderlike dokter, dr. Sonja Hattingh, en tandarts, dr. Pano Patrinos, wat hul harte oopmaak om behoeftige pasiënte te help wanneer hul skedules dit toelaat.” Sy sê fondse van donateurs word nooit gebruik vir dinge soos telefoonrekening, krag- en waterrekening of petrol nie. “Niemand agter die skerms van Genade in Aksie verdien ‘n salaris nie,” sê Maureen.

Die gebied wat hulle bedien sluit in (maar is nie beperk tot) Vistapark, Oranjesig en Hilton. Maureen skerts dat sy seker die grootste bedelaar in Bloemfontein is. Wanneer Genade in Aksie ‘n projek aanpak, gee sy haarself en haar toegewyde span van sewe lede drie maande om deeglik daarvoor voor te berei en om al die nodige goedere in te samel. “As ek weet ek benodig kos, gaan bedel ek by mense totdat ek genoeg het!” Sy sorg altyd dat daar ook ‘n plan B is, vir ingeval die projek misluk.

Wanneer sy nie by die werk is nie, ry sy rond om self donasies by mense op te laai en te gaan uitdeel aan dié wat dit
nodig het. “Ons het ‘n roete uitgewerk in die gemeenskappe wat ons bedien. Sodoende maak ons seker dat ons eers
by almal uitkom met donasies voordat ons weer voor begin.” Saans skuins na 18:00 moet sy weer tuis wees om na
haar bejaarde moeder om te sien. Haar pa is so onlangs as ‘n paar weke gelede oorlede. “Ek en my pa was baie na aan
mekaar. Hy het my so baie geleer – veral om goed vir ander te wees. My ma kry swaar sonder hom. Ons almal doen. Maar as die hartseer te erg word, dink ons aan die goeie herinneringe en is ons harte weer vol.” Maureen doen in haar private hoedanigheid ook huisbesoek by gesinne, veral bejaardes. “Dis so hartseer om te sien hoe die oumensies vereensaam. So baie van hulle se kinders en families los hulle alleen. ‘n Mens hoef nie altyd kos of geld te gee nie. Jou tyd is soms meer kosbaar as enigiets anders.”

Sy erken dat haar werk met Genade in Aksie haar soms emosioneel gedreineer laat. Sy sorg dus dat sy gereeld boeke vir inspirasie lees en haarself af en toe bederf met ‘n spabehandeling. Wanneer sy oor sowat vyf jaar aftree by Mediclinic Bloemfontein, wil Maureen haar droom, om ‘n permanente kombuis te beman waar sy op ‘n daaglikse basis gekookte kos aan behoeftiges kan voorsien, laat realiseer. “Ek bid hard vir twee dinge: ‘n kombuis, en ‘n bussie
wat ons permanent kan gebruik. Dit sal my hart bly maak!”

“Hoewel daar sekere maatskappye is wat per geleentheid skenkings aan ons maak, het ons Bloemfontein se mense nodig. Ons vat letterlik enigiets wat mense op die hart gedruk voel om te skenk. Kos, klere, speelgoed, babaprodukte, geld, komberse, ou meubels… absoluut enigiets. En NIKS word gemors nie. Dis my plig en voorreg om te sorg dat elke klein dingetjie geskenk word waar dit nodig is.” Maureen vertel dat sy ook groepe vriende of maatskappye fasiliteer wat voel dat hulle ‘n spesiale projek of dag vir behoeftiges wil aanbied. “Ons neem soms ‘n klomp kinders vir ‘n dag weg in ‘n bus, gee vir elk ‘n kospakkie en bederf hulle behoorlik. Wanneer kry hulle ‘n geleentheid soos hierdie in die ekstreme armoede waarin hulle leef?”

Maureen spog gereeld met haar enigste dogter, ook Maureen, wat haar regterhand is by Genade in Aksie. “Sonder haar sou ek dit nie kon doen nie. Sy neem beheer van die state en finansies en is ‘n briljante organiseerder. Ons maak ‘n wonderlike span.”

Maureen se oë blink wanneer sy vertel van die kindertjies in arm gemeenskappe waar sy gereeld gaan kuier. “’n Kind bly ‘n kind. Hulle wil speel, lag en stories hoor. Ek gee nie eers om vir die vuil gesiggies en snotneusies wanneer hulle met oop armpies na my toe aangehardloop kom nie. Dis liefde op sy suiwerste!”

Om meer te lees oor Genade in Aksie of om ‘n bydrae te lewer, besoek hul webtuiste hier of kontak 082 894 3013.

 

Foto: Pierce van Heerden

 

Get It Bloemfontein November 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.