Décor & Gardening

PROMOSIE: Greenside Kwekery – Waar die gras altyd groen is

PROMOSIE: Greenside Kwekery – Waar die gras altyd groen is

Vir talle Bloemfonteiners voel Greenside Kwekery soos ‘n toevlug – ‘n uurtjie se rustigheid en groen inspirasie te midde van ‘n gejaagde leefstyl. En die kersie op die koek… Greenside is ook nou die land se gunsteling!

Greenside Kwekery is maar ‘n paar minute se ry van, wel, enige deel van die stad af. Maar wanneer jy daar aankom,
begroet voëltjies se gesang, laggende kinders en vriendelike personeel jou. “Ons is ernstig daaroor om steeds na
al die jare ‘n ontspanningsoord vir mense te bly. Ons wil nie ‘n inkopiemekka word nie. Ons is hier om kundige
advies oor tuinbou te gee, kwaliteit en bekostigbare produkte te verskaf, ‘n heerlike ontspanne atmosfeer te skep
vir besoekers en ‘n veilige speelarea vir kinders.” Só gesels die hoofeienaar van Greenside Kwekery, Jan van Blerk.

Hy is al vir die afgelope 22 jaar aan die stuur van Greenside saam met sy familie: sy broer en skoonsuster, Christo en Riekie van Blerk (wat die teetuin bestuur), en sy suster, Jeanne Hattingh, wat aan die hoof staan van administratiewe sake. Saam-saam het hierdie sibbe ‘n wenresep in die wêreld van tuinbou ontwikkel en kan Greenside vandag met string toekennings sy naam spog. Behalwe vir die talle toekennings wat Greenside Kwekery oor die jare van die Suid-Afrikaanse Kwekersvereniging ontvang het, is sy grootste trots dié reeks toekennings oor die afgelope paar jaar. In 2016 het Jan as individu die goue medalje van die president van die SA Kwekersvereniging ontvang. “Ek was stomgeslaan. Dit was ‘n groot eer,” sê Jan. Hierdie prys is die hoogste eer vir ‘n individuele persoon in die bedryf en word uitsluitlik deur die president van die vereniging toegeken.

‘n Pragtige, veilige speelarea

In 2017 ontvang Greenside Kwekery die gesogte Platimun-toekenning (een uit vier landswyd) vir die beste kwekery. Kwekerye regoor die land word deur ‘n span beoordelaars besoek (sonder vooraf tyding!) en daar word na na elke aspek van die instansie gekyk: van parkering, uitstallings, netheid en fasiliteite, tot gehalte en verskeidenheid van voorraad. Greenside wen ook vanjaar die toekenning as die Beste Groot Kwekery in die land (ja, sowaar!), en vanselfsprekend dan ook die Beste Groot Kwekery in die Vrystaat. Greenside het óók die toekenning vir Beste Kleinhandelaar van die Jaar in die sentrale streek, asook Beste Binnenshuise Plante-afdeling in die land gewen. Hier word deur beoordelaars gekyk na gehalte, beskikbaarheid en verskeidenheid van plante.

Wat ‘n mondvol! Greenside Kwekery mág maar breëbors voor die publiek staan met hierdie fantastiese toekennings.
Maar, dit kom nie vanself of oornag nie, sê Jan. Dit is die produk van harde werk en lang ure. “Ons is net vier dae in die jaar toe – verder is ons elke dag oop vir die publiek. Dit verg baie navorsing, harde werk en intense betrokkenheid by jou besigheid om ‘n plek soos Greenside te bedryf – veral in hierdie tyd van droogte en waterbeperkings.”

Jan verduidelik hoe hulle (en talle ander kwekerye) hul fokus oor die afgelope drie jaar drasties moes verskuif weens
die droogte. “Dis ‘n uitdaging, maar ook ‘n heerlike verandering in die bedryf. Ons fokus baie meer op inheemse en
vetplante. Harde landskappe vir tuine is ook uiters gewild, omdat dit min tot geen water nodig het nie. Klippe, stene
en plaveisel is gunstelinge.”

Jan is self ‘n gekwalifiseerde tuinboukundige wat graag raad en wenke aan tuistuinskeppers gee. “Ons het definitief in hierdie tyd geleer dat plante nie so baie water nodig het om te oorleef soos wat ‘n mens dink nie. Plante is wonderlik – hulle pas ook tot ‘n mate aan by hul omgewing.” Hy erken dat verkope gedaal het sedert die aanvang
van die erge droogte, maar dat hulle as bestuurspan koppe bymekaargesit het om steeds oplossings vir kliënte se tuine te bring, én ‘n vreedsame tuinervaring te voorsien wanneer gaste daar kom kuier of van die teetuin gebruik maak.

Gepraat van die teetuin – wie hou dan nie van vars, tuisgebakte kookkos nie? By Greenside se restaurant word ALLE
kos vars voorberei deur liefdevolle hande, met nét die beste bestanddele. “As mense hierheen kom vir iets te ete,
moet hulle nie gejaagd wees nie. Hier is niks kits nie – veral nie die kos nie. Ons berei alles met sorg en deernis
voor,” sê Jan. Greenside se restaurant is ook gewild vir geleenthede soos ooievaarstees, verjaardae en familie-byeenkomste.

Een van die grootste uitdagings, en ook vreugdes, vir die bestuurspan by Greenside, is om deurentyd aan die voorpunt te bly van jongste tegnologie, verwikkelinge in die tuinbou-bedryf en die nuutste neigings wêreldwyd.
“As daar nuwe tendense kop uitsteek, wil ons hê ons kliënte moet daarvan by ons hoor, en sommer al hul produkte
hier kan koop. Ons hou daarvan dat alles onmiddellik beskikbaar is – vir die gerief van die kliënt.” Greenside se pryse is ook baie kompeterend – vra maar vir enige tuinliefhebber in die Rosestad. Die altesaam 35 permanente werknemers by Greenside staan gereed om al jou vrae te beantwoord en aan jou die beste raad en diens te verskaf. En as hulle nie weet nie, leer hulle saam met jou as kliënt!

‘n Behoefte wat oor die jare steeds onder kliënte bestaan – droogte of nie – is om kleur in hul huise in te bring in
die vorm van blomme. “Gewilde blomme vir binne die huis is ongetwyfeld begonias en orgideë.” Mense begin ook baie meer selfonderhoudend lewe met die aanplant van groentetuine en vrugteboorde. “Om slim te werk te gaan
met effektiewe deklae soos kompos, bas en blare, help voorkom jy verdamping in jou tuin en het jy baie minder water
nodig. As jy die regte plante in die regte sones plant, maak dit ook ‘n reuseverskil.”

Klink dit effe soos Grieks? Dan is die wenke wat jy by Greenside Kwekery kan kry dalk nét wat jy nodig het vir ‘n
moeitelose, inspirerende tuin!

Vir gereelde tuinwenke, die jongste nuusflitse en sommer alles wat jy wil weet oor Greenside, sluit aan by die kwekery se Facebookblad. Loer ook gerus na die webblad: www.greensidekwekery.co.za, of skakel 076 982 7375.

Christo van Blerk, Jeanne Hattingh, Jan van Blerk en Riekie van Blerk (voor)

 

Get It Bloemfontein September 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.