Décor & Gardening

Ulrich en Cobus se huisdekor is in perfekte balans

Ulrich en Cobus se huisdekor is in perfekte balans

Ulrich Venter en Cobus Buys se huis verwelkom jou met sjarme, blomme, kleur en warmte. Get It het by hierdie stylvolle paar se huis in Lilyvale gaan inloer vir klassieke én moderne dekor-inspirasie.

As senior konsultant by Grand Room Design wéét Ulrich waarvan hy hou wanneer dit kom by dekor, kleure en styl. Modern en treffend. Sy wederhelf, Cobus – ‘n advokaat – is weer die toonbeeld van klassiek en stylvol. Saam het hul kreatiewe kante mekaar goed geslyp, en is hulle huis nou ‘n harmonieuse mengsel van oud en nuut – klassiek en modern – met ‘n tikkie kunstigheid.

“Ons woon al byna vyf jaar in hierdie huis en ons is bitter gelukkig hier. Dis prakties, en die grootte is perfek,” gesels Ulrich op hul gemaklike rusbank met Frodo en Bella (twee lewendige Yorkies) wat uitgestrek by ons lê. Hulle het
dié tweeslaapkamerhuis van die ontwikkelaar se plan af gekoop, en het dus vryheid gehad om te besluit hoe dit moet lyk. “Ons hou van onthaal en gemaklik leef. Maar ons hou ook van mooimaak. Ek dink ons huis is nou só ingeleef dat
dit aan hierdie aspekte voldoen.”

Ulrich doen self beeldhouwerk as ‘n stokperdjie, en sy kunswerke pronk om elke hoek en draai in die huis. Blou is die paartjie se gunsteling-kleur. Die spaarkamer se fokuskleur is ‘n helder seeblou, terwyl ‘n fokusmuur in die leefarea
‘n koel blougrys geverf is. “Om ons huis mooi te maak, is ‘n kreatiewe uitlaat. Ons albei geniet dit om ons eie stempel op ons blyplek af te druk,” sê Ulrich.

Hy glo ook dat daar altyd blomme en mooi musiek in ‘n huis moet wees. Hul huis is besaai met orgideë en tulpe – sy gunstelingblomme. “’n Mens voel welkom wanneer jy in ‘n huis instap waar daar blomme is. Ek hou ook nie van
simmetrie nie. Dekor moet diepte en verskillende dimensies hê. Dis ‘n allesomvattende ervaring vir die sintuie.”

Blomme, blomme, en nogmaals blomme in die leefarea!

Die hoofslaapkamer se bed is lekker snoesig vir kat-se-kind

Die gastekamer se kleurskema is grys en seeblou

Gastekamer

‘n Sjiek gastebadkamer

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.