People

Jacobus Silwer en sy Lizamé is vir mekaar gemaak

Jacobus Silwer en sy Lizamé is vir mekaar gemaak

Jacobus Silwer en sy vrou, Lizamé Coetzee, maak ‘n kragtige paartjie wat deesdae die kunstewêreld behoorlik op horings neem.

Waar begin ‘n mens? Om te sê die Coetzee-egpaar het baie hooi op die vurk, is ‘n sag gestel. Hul paadjie in die openbare oog het begin toe Jacobus Silwer se sangloopbaan en Lizamé se kunsloopbaan ‘n klompie jare gelede
afgeskop het. Toe hulle in 2014 die knoop deurhak, het hulle groot planne gehad om saam-saam te woeker in die Rosestad se kunste- en musiekwêreld. Daardie planne groei steeds by die dag en maak dié twee ‘n formidabele voorbeeld vir soveel opkomende kunstenaars.

Get It het onlangs met Jacobus en Lizamé ‘n buitengewone, prettige fotosessie by Tom’s musiekwinkel in Bloemfontein gehad. Die vonkeling tussen die twee is na drie jaar se getroude lewe steeds duidelik sigbaar. Jacobus se album, Genade vir Afrika, is uiters gewild en is tans in sy tweede druk. Lizamé het onlangs met Jacobus se hulp leer trekklavier speel, en is deesdae saam met hom op die verhoog te sien. Dié nuwigheid aan die musiekfront
het haar as hoofsaaklik visuele kunstenaar op verskeie vlakke uitgedaag. “Ek het nie baie geduld nie. As ek ‘n nuwe vaardigheid aanleer, wil ek dit onmiddellik kan doen! Gelukkig is Jacobus baie geduldig met my en help hy my baie
mooi.”

Jacobus en Lizamé beplan om in Oktober/ November die Kaap plat te toer met hul musiek. Tussendeur word 2018 se
Passiespele ook geskryf, met Jacobus aan die stuur van al die musiek en lirieke. Hulle span ook kragte saam met Gian Groen vir interessante optredes en Jacobus is steeds aan die woeker met sy eie liedjies, lirieke en optredes.

Aan die kunsfront het die twee Coetzees onlangs ook hul hand gewaag aan kwas, potlood en kamera om die ongelooflikste werke die lig te laat sien. Hulle werk tans aan hul inskrywings wat deel gaan uitmaak van die uitstalling, Little Jewels by Gallery on Leviseur (3-24 November), en nog ‘n gesamentlike uitstalling vroeg in 2018. Lizamé fokus grotendeels op haar gedetailleerde kunsfotografie, en Jacobus het onlangs ‘n liefde (en ongelooflike talent!) vir skets ontdek. Hy skets die allermooiste diertjies en goggas, terwyl LIzamé se fotografie fokus op plante en blomme. Hul kunswerke word as doekskilderye verkoop, en word ook op ‘n verskeidenheid artikels gedruk, insluitend kussings, oorbelle, ensovoorts.

Ek voel dat ek en Jacobus vir mekaar geskep is. My gebed vir hom is dat hy in homself sal glo.

Lizamé en Jacobus is ook gesamentlik verantwoordelik vir al die grafiese ontwerp van hul musiekhandelsmerke, plakkate, CD-omslae en promosiemateriaal. Hoewel bogenoemde ‘n reuse-mondvol is, kom ons nou eers by die grootste projek wat hierdie paartjie vanjaar en in 2018 aanpak – Al die pad van Bloem. Hulle werk hier vanuit die uitgangspunt dat Bloemfontein ongelooflike, onontginde talent het en dat soveel opkomende kunstenaars in die Mangaung-gebied net ‘n platform en aanmoediging nodig het om hul talent te ontwikkel.

“Die idee broei al ‘n ruk tussen ons twee. Mense stuur gedurig gedigte vir Jacobus en vra of hy dit kan toonset. Die
gedigte is nie noodwendig op standaard nie… maar in plaas daarvan om die persoon eenvoudig af te skiet, wil ons
mense opvoed in die kreatiewe proses,” verduidelik Lizamé.

So is die projek gebore. Jacobus en Lizamé gee vir jong kreatiewe siele die kans om tot en met 31 Januarie 2018 hul opgeneemde liedjies in te skryf vir projek,en hulle dan die moontlikheid bied om deel te wees van ‘n album en produksie genaamd Al die pad van Bloem. Enige wins wat uit hierdie produksie gemaak word, sal dan opgedeel word tussen die kunstenaars.

“Almal wat ons genader het om agter die skerms deel te wees van hierdie produksie het onmiddellik heelhartig ingestem en is opgewonde daaroor. Dit is definitief ‘n teken vir ons dat daar so ‘n behoefte in Bloemfontein is vir jong kunstenaars om hul stem te laat hoor. Hierdie projek gaan mense bymekaar bring. Ons is seker daarvan,” gesels Lizamé. Daar is geen taalof kultuurbeperking in hierdie projek nie. “Dis nie ‘n Afrikaanse musiekprojek nie. Dis
inklusief vir alle tale. Alle inskrywings moet oorspronklik wees en ongepubliseerd.”

Jacobus voeg by: “Bloemfontein hoef vir seker nie terug te staan vir die res van die land se kunstenaars nie. Groot name in die bedryf kom uit die Rosestad uit. Ons moet net harder werk om ons stempel af te druk.”

Al die dinge waarmee die Coetzee-egpaar hulle besig hou, kan beslis sy tol eis. Lizamé vertel hoedat sy in ‘n kort tydjie haar hand op baie elemente wat deel uitmaak van die musiekbedryf moes hou, omdat sy sedert hul troue al die bemarking, admin en logistieke reëlings van Jacobus se loopbaan oorgeneem het. “Ek moes leer om uit my gemaksone te kom en my stem dik te maak in die bedryf. Dis vir seker nie maklik om in so ‘n kompeterende bedryf bo uit te kom nie. Solank jy nie jou menslikheid en passie verloor nie, is enigiets moontlik.” Sy het onlangs ‘n kreatiewe blok beleef met haar kuns, maar voel sy kan weer nuwe inspirasie ontgin met haar en Jacobus se nuwe visuele kunsreeks.

Hulle moet ook hard werk om te sorg dat die wonder van hul huwelik nie verlore gaan tussen optredes, musieknote en verfkwaste nie.  Maar wanneer Get It uitvra oor waarom dié twee so lief is vir mekaar, kom die antwoorde onmiddellik en met groot glimlagge: “Jacobus het die ongelooflikste manier om met mense te werk. Hy is altyd kalm en koelkop en hanteer elke persoon wat oor sy pad kom met grasie. Ek bewonder dit. O, en hy’t mooi kuite!” sê Lizamé. Jacobus se bydrae: “Ag, ek is net mal oor Lizzy. Om te kan sien hoe sy onder druk werk is ongelooflik. Sy verrig take ten spyte van teenspoed. En sy het die sagste hande wat ek nog ooit gevoel het.”

“Ons is baie opgewonde oor wat die toekoms inhou. En as getroude kunstenaars kan ons vir die eerste keer praat van ‘n drie jaar-plan! Daar is soveel mense wat vir ons vra of ‘n mens regtig geld maak, en of hierdie loopbaan die moeite werd is?” sê Lizamé. Waar daar passie en ‘n wil is, is daar ‘n weg, sê sy. “Ek voel dat ek en Jacobus vir mekaar
geskep is. My gebed vir hom is dat hy in homself sal glo. Dat hy elke dag sal groei. Dat hy geheel en al die man wat God hom bestem het om te wees, kan wees. Dis mooi om te sien hoe hy ontwikkel met sy skryfstyl en hoe hy al hoe meer musiek wil skryf wat uit sy siel kom. Dis asof hy ‘n stukkie van homself vir elke persoon wat sy musiek hoor, wil gee.”

 

Vir meer inligting oor Al die pad van Bloem, gaan loer na hul Facebook bladsy. E-pos: allthewayfrombloem@ gmail.com.

 

Teks: Lani Fouché.

Foto’s: Willem Janse van Vuuren.

Ligging: TOMS Bloemfontein (051 430 0665)

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.