Get to Know

MKR se Jamandi en Machiel Bekker agter die skerms

MKR se Jamandi en Machiel Bekker agter die skerms

Wanneer die Bloemfonteinse ouerpaar, Jamandi en Machiel Bekker, saam in die kombuis is, kook (en kuier) hulle vir die vale. Ons leer hulle ken as die uitgesproke, prettige kosliefhebbers op M-net se My Kitchen Rules.

Chaoties. Vurig. Prettig. Avontuurlustig. Dít beskryf die Bekkers se verhouding in die kombuis, voor die kameras, en sommer ook op ‘n gewone dag. Jamandi en Machiel is die eienaars van Solo Gracia Gastehuis in Bloemfontein en vier vanjaar die gastehuis se tiende bestaansjaar, asook hul tiende huweliksherdenking.

“Die plan was om Mauritius toe te gaan vir ons anniversary,” vertel Jamandi in hul karaktervolle kombuis in hul huis in Brandwag, “maar toe besluit ons om eerder saam-saam ‘n opwindende uitdaging aan te pak vir hierdie spesiale jaar in ons lewens.” Dis toe dat sy eendag op Facebook ‘n inligtingstuk raaksien dat oudisies vir die eerste Suid-Afrikaanse weergawe van die gewilde TV-realiteitsreeks, My Kitchen Rules, gehou word. In dié program word paartjies (dit kan enige paar wees – vriende, ouer-en-kind, egpare, ens.) uitgedaag om maaltye voor te berei wat dan deur die amptelike beoordelaars en ander deelnemers beoordeel word. Die aanbieding daarvan en die paar se gasvryheid word ook beoordeel.

“Gasvryheid is iets wat ons op ‘n daaglikse basis doen in die gastehuis. Ons hou ook baie daarvan om vriende te onthaal en saam met geliefdes te eet en te kuier. Maar die kosmaak… dit was nogal ‘n uitdaging!” vertel Jamandi. “Ons het eerlikwaar nie gedink dat ons dit so ver in die kompetisie sou maak nie.” Terloops, hulle vorder uitstekend in die kompetisie (wat steeds elke Sondag op televisie gebeeldsend word) en hulle is vir seker die gunstelinge van duisende kykers.

Die dis wat hulle met die heel eerste oudisies vir die beoordelaars voorberei het, was ‘n groot sukses. Dit was ‘n ricotta-plaatkoekie-stapel met carpaccio en beetsous. Sy onthou hoedat hulle in ‘n volgende ronde uitgedaag is om ‘n ontbyt in slegs 20 minute voor te berei. “As ons enigiets anders moes voorberei, sou ons beslis uitgeval het. Maar ons kan gelukkig ontbyt maak.”

Jy kan vandag ‘n sukses op die show wees, en more is jy uit. Ek het geleer om dankbaar te wees vir elke oomblik wat ons kon deel wees van hierdie ongelooflike reis.

Jamandi en Machiel moes tydens hierdie kompetisie blitsvinnig soveel as moontlik van kosmaak leer as wat hulle kon. “Dit was uitputtend, om die minste te sê. Na ‘n LANG dag op stel het ons tot na middernag opgelees oor kos en smaakprofiele. Ons moes onsself leer.”

Eers meer oor die Bekkers. Hul liefdesverhaal begin elf jaar gelede toe hulle blitsvinnig halsoorkop vir mekaar
geval het. Jamandi kom van Hartswater af en Machiel het in die Kaap grootgeword. “Ons het so vinnig verlief geraak dat ons sommer vyf maande na ons ontmoeting verloof geraak het, en ses maande later getrou het,” vertel Jamandi. Hulle loer na mekaar en lag. “Ons altwee het kort daarna geweet ons moes dalk nie so vinnig getrou het nie. Ons was
‘n bietjie oorhaastig.” ‘n Wittebroodbaba (hul seuntjie, Mikail), ‘n skattige dogtertjie (Maja, 6) en sewe sakke sout later is hul vandag ‘n kragtige sakepaar, ouerpaar en egpaar.

Hul sukses met die gastehuis het ongetwyfeld nie oornag gekom nie. Nadat hulle getroud is, is dit deur Jamandi se ouers aan hulle oorhandig om te bestuur. “Mense mag dalk so dink, maar niks is ooit aan ons op ‘n silwer-skinkbord gegee nie. Ons moes baie hard werk om aan die lewe te bly.” Vir ‘n ekstra inkomste het Jamandi in die beginjare
van hul huwelik in haar vrye tyd ‘n poppekasvertoning vir kinders aangebied en Machiel het tuinvullis verwyder.
Hulle kon vanjaar uiteindelik haar pa uitkoop en is vandag die trotse eienaars van hul eie besigheid.

“Dit was soms moeilik en daar was baie konflik toe ons ‘vir my pa’ moes werk. Maar ek is baie dankbaar vir die wyse
waarop my pa ons hanteer het. Dit het ons geleer wat harde werk en integriteit is. Ek sal eendag dieselfde vir my  kinders wil doen,” sê Jamandi.

Die pad wat hulle met My Kitchen Rules gestap het, het die Bekkers nader aan mekaar gebring. Machiel vertel: “Die grootste les wat ek in die afgelope paar maande geleer het, is om altyd opreg te wees. Mense kom dit agter as jy voorgee. Die kameras kom dit agter. En dit put ‘n mens uit! Wees net JY.” Jamandi sê haar grootste les was om altyd nederig te bly en te weet waar sy vandaan kom. “Ons was regdeur die hele kompetisie heeltyd daarvan bewus dat enigiets enige oomblik kan verander. Jy kan vandag ‘n sukses op die show wees, en more is jy uit. Ek het geleer om dankbaar te wees vir elke oomblik wat ons kon deel wees van hierdie ongelooflike reis.”

Die logistiek en malle gejaag agter die skerms om ‘n realiteitsreeks van hierdie skaal aanmekaar te sit, het die Bekkers dikwels onkant gevang. “Dit vat soms tot agt ure om ‘n segment op te neem wat ‘n paar minute op die televisie wys… dit is opwindend, maar uitputtend! Ons moes onsself pace. En ons moes ons kragte behou deur mekaar te ondersteun en ‘n sin vir humor te behou.”

Een van die moeilikste dinge van hul MKR-ervaring, was die weke weg van hul kinders af. “Ons het gehuil – ons al vier – wanneer ons mekaar moes groet. Ons het só na ons kinders verlang. Maar hulle het die omvang van die situasie besef, en hulle was eintlik regdeur baie ondersteunend,” sê Machiel.

Op geestelike vlak het hulle ook saam gegroei. “Ons het regdeur die Here se teenwoordigheid ervaar,” sê Jamandi. “Ons ervaar dat Hy ons wíl seën met wonderlike geleenthede en vooruitgang. En daarvoor is ons dankbaar.”

Die laaste episode van My Kitchen Rules word op 10 Desember om 18:00 op M-net gebeeldsend wanneer die wenners aangekondig word. Die wenpaar steek ‘n allemintige R1 miljoen in die sak.

En wat as die Bekkers wen? Machiel verklap: “Ons gaan, soos die res van die kykers, ook daardie dag eers weet wie wen! Ons senuwees is gedaan. Ons wil graag in die nabye toekoms ons eie restaurant in Bloem open, so ‘n geldjie
daarvoor sal nie te versmaai wees nie…”

Teks: Lani Fouché.

Foto’s: Willem Janse van Vuuren.

Grimering: Marisa Swarts (BLUSH: 076 988 9975).

Klere en stilering: Hermien Pretorius (Angels Boutique)

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.