Get to Know

Brigitte Joubert leef vir avontuur

Brigitte Joubert leef vir avontuur

Om jouself in Brigitte Joubert se skoene te plaas, beteken om ‘n goeie paar tekkies aan te trek en te laat waai – byna sonder ophou. Sy’s ‘n tawwe Tienie om mee rekening te hou.

Brigitte (31) is op die oog af ‘n pragtige, borrelende blondekop met ‘n natuurlike skoonheid en plat-op-die-aarde geaardheid wat jou dadelik intrek. Maar sy ken van harde klippe kou en is beslis van staal gemaak.

Sy het ‘n voorliefde vir enige tipe avontuur wat haar liggaam tot die uiterste druk. Sy is op haar gelukkigste wanneer sy bergfiets op ruwe terrein ry, oor berge hardloop en op ‘n kajak deur sterk strome moet beur. Die grootste avontuurtogte wat sy tot op hede aangepak het, was ongetwyfeld Expedition Africa (twee van hulle!), 4Peaks, Transbaviaans, 36ONE MTB Challenge en War Trail. Tydens Expedition Africa word 550 km afgelê in minder as
‘n week. Dit sluit in stap/klim/ hardloop, fietsry en kajakroei.

4Peaks is presies wat dit sê: vier stywe heuwels word by Moolmanshoek geklim (as jy Brigitte is – uitgehardloop!).
Die Transbaviaans is ‘n 240 kmbergfietswedren vanaf Willowmore tot in Jeffreysbaai. Die 31ONE MTB Challenge
is ook ‘n bergfietswedren wat in die Swartberg begin en in 36 ure afgelê word. En die War Trail is ‘n 265 km-roete
in die hartjie van die Oos-Kaap wat ook uit hardloop, bergfietsry en kajak-roei bestaan.

“’n Mens pak nie so ‘n uitdaging aan en kom onveranderd terug nie. Dit maak jou regtig nederig en dankbaar vir alles
wat jy het – jou gesondheid, fisieke vermoëns en die voorreg om die natuur te kan beleef.”

Brigitte gesels met Get It op ‘n heerlike somerdag by die Royal Fischer Hotel in Woodland Hills. Haar blonde krulhare en bruingebrande vel gee aan haar ‘n buitelewe-voorkoms en die bloukolle en skraapmerke op haar gespierde bene verklap iets van haar avontuurlustigheid. Op 31-jarige ouderdom is sy enkellopend, ‘n adrenalienvraat, buitelug-liefhebber en vir seker op haar gelukkigste. “Daar is iets aan ‘n avontuurreis wat jou dwing om oor baie dinge te dink. Jy dink oor jou lewe, dit wat jou gelukkig maak en dit wat regtig belangrik is. Ek wonder gewoonlik of materiële dinge soos ‘n huis en ‘n kar my werklik gelukkig maak? Die antwoord is nee. My geluk kom uit iets diepers en dit is daar – in die grootste uitdagings en swaarkry – waar ek dié geluk vind.”

‘n Berg maak jou dankbaar. En nederig. Jy besef dat jy absoluut afhanklik is van jou gesondheid.

Brigitte is die bemarkingshoof van Fluid Kayaks, ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy wat kajakke en kano’s vervaardig en
versprei. Sy reis dus gereeld oor ‘n groot deel van die land heen vir haar werk en gaan binnekort verhuis Parys (Vrystaat) toe, waar die maatskappy se hoofkantoor geleë is. Tussendeur haar werksverpligtinge en reise,
fokus sy op spesifieke en intensiewe voorbereiding in die verskillende dissiplines vir die avonture wat sy aanpak.

Sy doen doelbewus nie padwedlope of padfietswedrenne nie, omdat dit haar verveel. “’n Berg maak jou dankbaar.
En nederig. Jy besef dat jy absoluut afhanklik is van jou gesondheid. En water is so onvoorspelbaar. ‘n Mens leer regtig ‘n nuwe betekenis van dankbaarheid as jy so ‘n reis kan voltooi.” Sy is ook weer opnuut dankbaar vir eenvoudige, allerdaagse dinge soos skoon, lopende water, ‘n warm bad en ‘n warm bord kos na ‘n ekstreme ekspedisie.

Die avontuurreis-gogga het Brigitte sowat vier jaar terug gebyt toe sy haar eerste Transbaviaans voltooi het. Een van die lekkerste dinge van hierdie tipe uitdagings vir Brigitte is dat dit in spanverband gedoen word. Sy gesels heerlik oor die Expedition Africa, wat haar grootste uitdaging tot op hede was. “Ons was ‘n span van vier – twee mans en  twee vroue. Ons het nog nooit vantevore saam ge-race nie, so dit was ‘n unieke uitdaging vir ons almal. Ons het vooraf vir mekaar gesê ons het een doel voor oë: om die ekspedisie te voltooi. Ons wou nie wen nie – ons wou klaarmaak. En ons het! Jy besef hoe afhanklik jy van ander se hulp en ondersteuning is in so ‘n situasie.”

Sy vertel dat een spanlid een dag ‘n goeie dag beleef, terwyl jy dalk flouer is. En andersom. Op daardie dae is die ondersteuning van die sterker spanlede van uiterse belang.

“Snaakse dinge gebeur op so ‘n tog,” giggel Brigitte. “Daar is tye wat jy so moeg is dat jou liggaam letterlik afskakel. Ek het een dag bo-op my fiets aan die slaap geraak. En ‘n mens kry sleep monsters. Ons het op die strand  gehardloop, waar ek perde uit die see uit sien hardloop het. Ons het so lekker vir mekaar gelag.” Humor, glo Brigitte, is wat haar soms deur die moeilike tye dra. “Daar is tye wat dit vir jou voel jou lyf kan nie meer nie. Dis dan wanneer jou kop jou deurtrek. En humor. ‘n Goeie giggelsessie saam met ‘n spanmaat gee energie.”

Hoewel sy die land vol reis met haar werk én avonture, sal Bloemfontein altyd ‘n spesiale plek in Brigitte se hart hê. Dis haar grootwordplek, en waar sy haar liefdes ontdek het. Sy het in 2004 aan die Hoërskool Jim Fouché  gematrikuleer, en B.Com Bemarking aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Sy is tans ‘n finalis vir Women’s Health se titel as Ultimate Competitor. En haar avonture sal nooit eindig nie, omdat dit haar keer op keer die waarde van die lewe leer. “Wanneer dit net jy in die berge is, of net jy op jou fiets, is jou kop in ‘n ander plek. Jy besef
werklik wat belangrik is. Jy waardeer jou gesondheid, jou geliefdes, die natuur, die léwe. En dit verruil ek vir niks.”

 

Foto’s: Willem Janse van Vuuren.

Grimering: Jeakita Holder (071 483 7970).

Klere en stilering: Que’s Boutique (Prellerplein, 051 436 2626).

Ligging: The Royal Fischer Hotel (royalfischer.co.za)

 

 

Get it Bloemfontein December 2017


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.