People

Silwerdoek word realiteit vir Antoinette Louw

Silwerdoek word realiteit vir Antoinette Louw

Antoinette Louw is so plat op die aarde soos kan kom. Maar haar lewenswysheid en sielsdiepte laat haar kop en skouers bo haar eweknieë in die vermaaklikheidsbedryf uitstaan.

“Ek is eintlik ‘n introvert. Ware konneksie is uiters belangrik vir my – dit is kos vir my siel.” Vir bekroonde aktrise, Antoinette Louw, is daar baie meer aan toneelspeel as net, wel, toneelspeel. Sedert haar skool- en studentejare in Bloemfontein het sy haar hand aan skryf gewaag en het verskeie stukke al uit haar pen gevloei. Maar haar passie verskuif op ‘n gereelde basis van voor tot agter die kameras, en hierdie twee wêrelde vind elk hul regmatige plekkie in Antoinette se repertoire. “Die tye agter my rekenaar wanneer ek skryf, is kos vir my siel. Ek hou van my eie spasie en tyd, om gedagtes op papier neer te pen. Om voor die kameras te wees, is heeltemal ‘n ander storie. Jy is konstant omring deur mense – selfs tydens weerlose, emosionele tonele. Maar op elke projek waaraan ek al gewerk het, word daar ‘n hegte band gevorm met die mense saam met wie ek werk.”

Antoinette word met deernis onthou deur duisende Suid-Afrikaners as Inge, die boetiekeienaar van 7de Laan. Maar vóórdat sy Inge geword het, het Antoinette se lewenspad interessante draaie gemaak. Sy het onder meer vir ‘n ruk lank in Malta gewoon – ‘n tydperk waaraan sy steeds met mooi herinneringe terugdink. “Ek moet erken, ek het nie eers geweet waar Malta was nie! Maar ek het ‘n Maltese outjie ontmoet en die liefde nagejaag. Ek was daar vir ‘n jaar. Die eiland is in baie opsigte idillies. Bitter min misdaad. Die ekonomie is sterk. Eeue oue geboue. Selfs ‘n tempel wat ouer is as Stone Henge. Maar dis nie Suid-Afrika nie. En ten spyte van die baie probleme wat Suid-Afrika het, het ek tydens daardie jaar in Malta finaal besef ek wil nêrens anders in die wêreld as Suid-Afrika bly nie.”

As kind het Antoinette vir ‘n paar jaar saam met haar gesin in Amerika gewoon en die state platgetoer. “Een van my mooiste herinneringe van ons tyd daar is die sneeu!  Ek noem dit ‘God se asem’. Dis onbeskryflik mooi. En so, so stil as die sneeu val. En wanneer jy weer sien, is jy omring deur ‘n nuwe, magiese wêreld…” Albei Antoinette se ouers is bekende professore in Sielkunde. Vir haar was die wêreld van Sielkunde nog altyd interessant, en glo sy dat sy deur haar toneelspel tog ‘n mate daarin delf. “Ek het ook in ‘n stadium antropologie oorweeg. Bloot oor die feit dat ek so geïnteresseerd is in mense en hul gedrag. Maar in my werk as aktrise is dit juis wat ek doen. Ek kyk na en ontleed mense se gedrag – en doen dit met elke rol wat ek aanpak. Daardeur kry ek nie net insig in ander mense nie, maar ook in (en veral) myself.”

Hoewel sy nie meer in Bloemfontein woon nie, lê haar vormingsjare in die Rosestad haar baie na aan die hart. “Die herinneringe oorspoel my. Die pieknieks wat ons as vriende by Oliewenhuis gehou het. Die strate waar ek op my fiets in die vriesende winters skool te gery het. My eerste date op Naval Hill waar ons ‘n pizza geëet het.” Dis ook die plek waar sy haar voete as aktrise gevind het, al woon sy tans in Somerset-Wes. “Dit voel nog steeds of ek huis toe kom as ek in Bloem is.”

“Die herinneringe oorspoel my. Die pieknieks wat ons as vriende by Oliewenhuis gehou het. My eerste date op Naval Hill.”

Haar mooiste herinneringe van haar skooljare op Hoërskool Sentraal, is gesentreer rondom ‘n merkwaardige onderwyseres. “Juffrou Zesta Vorster. Sy was ons Afrikaanse onderwyseres, maar het buitemuurs drama gegee. Sy het my liefde vir teater geslyp en my ook my eerste hoofrol gegee in ‘n teaterstuk. Dis maar moeilik vir ‘n tiener wat belangstel in teater en skryf – jy voel dikwels jy pas nie in nie. Maar sy het haar ontferm oor die paar van ons wat in die kunste belanggestel het.”

“My swotjare was uitputtend. Ek onsettend hard gewerk, want ek het terselfdertyd twee grade geswot –  Teater en Kommunikasiekunde. Maar elke keer as ek my voete op die planke gesit het, was ek in my element. Dis nou nog so.”

‘n Hoogtepunt in Antoinette se loopbaan was toe sy ‘n Safta (die plaaslike weergawe van die Oscar) gewen het vir Beste Aktrise vir haar rol in Deon Meyer se Die Laaste Tango. Sy is die eerste Afrikaanse aktrise wat hierdie toekenning ontvang het.

Die rol wat sy vertolk het as Anna in die teaterstuk Dis ek, Anna, het haar in soveel opsigte ryker gemaak. “Dit het my oë laat oopgaan vir die realiteit van ons samelweing. En my dapperder gemaak om stories te vertel wat mense nie noodwendig oor wíl praat nie. En hoe ontsettend belangrik dit is om júís te praat waarvoor ons bang en skaam is.”

Nou is Antoinette opgewonde oor haar jongste projek – haar rol in die internasionale film An Act of Defiance wat handel oor Bram Fischer. Sy speel die rol van Bram se vrou, Molly. “Dis my eerste hoofrol in ‘n internasionale fliek en ek’s baie trots om deel te kan wees van Bram en Molly se merkwaardige verhaal. Dié film is ‘n hartsfilm.”

Ons wou by Antoinette hoor wat op haar wenslys is… “Ek wil die Aurora Borealis sien. Hopelik in Finland, met baie sneeu. Ek wil aanhou deel wees van stories wat ‘n verskil kan maak in iemand se lewe. Want stories het die mag om dit te doen. En ek wil nooit ophou groei nie – as mens en as kunstenaar.” Haar kosbaarste besitting is haar kombers wat haar ouma vir haar gehekel het toe sy in graad 1 was.

Toe ons wou uitvis wat haar geheim is vir haar porselein-sagte vel, antwoord sy dat die lewe in die kollig beteken dat sy dikwels baie meer ‘perfek’  voorkom as wat sy is. Dit is vir haar belangrik dat haar aanhangers dit moet wéét. “Baie dankie vir die kompliment, maar my vel is definitief nie perfek nie! Dis net ‘n persepsie.  Mense wat in tydskrifte verskyn het grimeerkunstenaars en fotograwe – juis om jou goed te probeer laat lyk. Dis vir my belangrik dat (veral) vroue dit weet. Selfs die meeste modelle is nie perfek nie.” Sy sorg wel dat sy op ‘n daaglikse basis sonskerm en ‘n sonhoed dra om sonskade aan haar vel te verhoed.

 

Vinnige vrae vir Antoinette

Jou gunstelingkos is… varsgebakte plaasbrood met botter.

‘n Gesonde persoon wat parkeer op ‘n ‘disabled parking’-plek … maak my briesend.

Reis en my werk … maak my gelukkig.

Joga is vir jou soos… ‘n toevlugsoord.

Hoëhakskoene of tekkies? Nie een nie. Kaalvoet!

Jou versteekte talent is…  Slaap.

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.