People

Anri speel haar troefkaart

Anri speel haar troefkaart

Anri Powell is meer as net ‘n Bloemfonteinse sakevrou. As besturende direkteur van Ace Models South Africa, vervul sy die rol van vrou, ma van twee en sake-entrepreneur met dieselfde statigheid en finesse wat sy oordra aan haar afrondingskool se modelle.

Anri het twee jaar gelede as ‘n 50%-vennoot ingekoop in Ace Models SA. “Ek het besluit ek wou net eenvoudig deel wees van hierdie handelsmerk. Ek leef, eet, slaap, dink en praat soos die motto van Ace Models: #become your dream. En ek het net gevoel dat dit wat ons hier beet het, wonderlik is, en dat ek dit in die res van die land wil dupliseer.”

Anri is in Bloemfontein gebore en het in Bethlehem grootgeword nadat haar gesin daarheen verhuis het. Sy het na skool teruggekeer na die Rosestad om bemarking aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie te studeer. Nadat sy graad gevang het, het sy vir 12 jaar as mediese verteenwoordiger gewerk.

Toe Anri in 2011 genomineer word vir deelname aan die Mev. Suid- Afrika-skoonheids-kompetisie, het sy nie kon droom dat dit haar tot so ‘n mate sou inspireer dat sy ‘n ‘nuwe mens’ daaruit sou stap nie. “Ek het besluit om deel te neem aan die kompetisie, en toe vind ek myself. In daardie stadium was ek en my man op ‘n kruispad en in 2009 moes ons besluit oor ons toekoms. Ons wou ons huwelik ‘n kans gee, ons wou saamstaan en die struikelblokke op ons pad oorkom.”

“Ek moes myself weer vind. Ek moes uitvind wie Anri is. Ek was mal oor my werk en die maatskappy wat ek in daardie stadium voor gewerk het. Maar ek het nie geweet wie ék is nie. Ek was altyd net nog ‘n rep of Jimmy, die rugbyspeler, se vrou. So besluit ek toe in 2011 om aan die Mev. SA-kompetisie deel te neem en daar land ek toe onder die top-vyf-finaliste.”

Ek het besef wie ek is. Ek is Anri…

In die tyd dat Anri aan die kompetisie deelgeneem het, sien sy ‘n ander sy van die lewe. “Ek het stukkende vroue gesien, vroue wat, soos ek, hulself wou vind. Ek het vroue gesien wat om verskillende redes deelgeneem het en besef hoedat ons almal altyd na die voorblad van tydskrifte kyk en so maklik oordeel, terwyl 95% van die mense wat deelneem, ‘n soeke na hulself het.”

In 2012 kry Anri ‘n oproep van die uitvoerende hoof van Mev. SA, Joani Johnson, wat haar vra om haar Bloemfonteintak wat sou oopmaak, te bestuur. “’n Paar jaar vantevore het ‘n vriend wat oor my profeteer het, gese ek gaan met jongmense werk. Ek het begin Sondagskoolklasse gee, maar besef dat dit nie vir my was nie. Ek het egter aanhou wonder waarom ek die profesie gekry het terwyl ek in bemarking gewerk het en betrokke was by die korporatiewe kant van sake. Jongmense het nie in die prentjie ingepas nie.”

Anri se deelname aan die skoonheidskompetisie het tot introspeksie gelei en sy het besef sy is reg vir ‘n nuwe uitdaging. “Ek het besef wie ek is. Ek is Anri, nie net iemand se dogter of vrou nie. En nadat ek dit vir myself uitgemaak het, was ek in werklikheid op soek na ‘n nuwe uitdaging. Die stukkies van die legkaart het in plek geval toe Joani bel. Ek het net gesê: ‘Kom ons doen dit!’“

Binne 24 uur het Anri bedank en ‘n stap in geloof geneem – van ‘n standvastige inkomte as rep, tot ‘n half onbekende toekoms as entrepreneur. “Toe besef ek dat ek hierdie platform kan gebruik om met jongmense te werk en aan hulle dinge kan verduidelik wat ekself eers op 35 uitge-figure het, dat ek iemand anders kan help om dit dalk reg te kry selfs al is hulle 12.”

Anri fokus op die afronding van vroue, en help ma’s om hul kinders se selfvertoue, liefde vir hulself en geloof in hulself te ontwikkel. Haar tak is een van twintig in die land en sy is trots daarop om te kan sê dat hulle vir die afgelope vier jaar die Franchise van die Jaar-titel in die nasionale kompetisie gewen het.

“Toe ek die besigheid begin het, was ek oorsensitief. Ek het maklik kritiek persoonlik opgeneem. Ek sou vir weke aaneen daaroor tob, maar ek het geleer dat ‘n mens deur ‘n effe dikker vel te hê, maklik kan oorleef. In dié bedryf het jy dit nodig, ek het gegroei in die proses en besef dat besigheid is besigheid, en vrienskap is vriendskap. Ons is lojaal teenoor mekaar omdat ons vriende is, maar ons kyk nie mekaar se foute in besigheid mis nie, en dit het my baie laat groei.”

Om in ‘n geslote gemeenskap soos dié van Bloemfontein besigheid te doen, het ook met ‘n paar lesse gekom. “Samewerking. Ek het besef Bloemfontein het baie talent. Mense wat invloed het, nie net in Bloem nie, maar ook buite die stad, mense met goeie kontakte en verhoudings. Ek dink mense besef nie hoe belangrik dit is om saam te werk en kontakte te deel nie. Jy sal die nie op jou eie maak in Bloemfontein nie. As jy nie bereid is om saam te werk met ander nie, as jy nie jou hand uitsteek en sê ‘help my en ek help jou’, nie, en ‘hoe kan ons saam Bloemfontein laat groei’ nie, dan gaan jy uit die bus val. Dis een van die hoofredes vir my sukses. Ek kan op mense se knoppies druk om my handelsmerk te laat groei, en saam kan ons Bloemfontein laat groei.”

Anri beplan om Ace Models SA tot op internasionale vlak te neem hierdie jaar. “Ons is op die oomblik in Namibië. Ek wil graag ons handelsmerk in die res van Afrika vestig. Dis een van ons hoofdoelwitte omdat ek dink daar is baie talent. En ons sal hopelik voor die einde van die jaar twee takke in Amerika hê.”

“Ek voel regtig dat dit my doel is. Nie net om jong meisies te help om modelle te word nie, maar om enige persoon te laat besef dat hy of sy die beste weergawe van hom- of haarself kan wees en nie iemand anders hoef te wees nie. Dït is wat ek oor die wêreld wil versprei.”

Vinnige vrae
Tema vir die jaar… heling.
Wat hou Anri aan die gang… Ek wil net myself wees; wees waar ek nou is. My lewe is in ‘n fase waar ek by my gesin en kinders is, en ek hou van elke seisoen wat daar is.
Boodskap aan vroue… Vir meisies en vroue om te verstaan dat jy soveel meer is as ‘n voorbladgesig of ‘n tiara, dis ‘n bonus en moet gevier word, maar wie is jy aan die einde van die dag wanneer jy alleen voor die spieël staan.
Beste advies: van haar man, Jimmy…
Om onvoorwaardelik lief te hê en te lewe. Die oomblik wat jy vir iemand anders iets kan doen, sonder om iets terug te verwag – dan verander jou lewe.
Van haar besigheidsvennoot, Joani… Moet nooit in politiek betrokke raak nie, en dis moeilik in ons bedryf, en as jy betrokke raak, kom daaruit so gou moontlik.

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.