People

Drome kry vlerke

Drome kry vlerke

Die jong, nederige Rona van Blerk spog met haar eerste enkelsnit, “Veilig” en het mense aan die praat oor haar wonderlike talent .

Wanneer die 23-jarige Rona van Blerk haar gedagtes laat teruggaan na die vyf jaar wat sy in Bloemfontein studeer het, onthou sy hoe sy ‘n ware Vrystater geword het. “Ek het geleer om te bid vir reën,” vertel sy. Van haar beste herinneringe aan haar studentejare is toe sy deel was van Huis Soetdoring op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat.

Sy onthou die jaarlikse sêr-kompetisies saam met Vishuis-manskoshuis en hoedat sy deelgeneem het aan Miss August, een van die hoogtepunte elke jaar. “Daar is min dinge so mooi soos ‘n sonsopkoms by Naval Hill,” sê sy. “En Bloem se mense lê my na aan die hart. Jy dink jy gaan gou dorp toe, dan loop jy iemand raak, en jy kom eers ‘n paar uur later weer tuis. Bloemfontein is eintlik ‘n groot juweel. Daar was nie genoeg tyd in my studentejare om alles te doen wat ek wou doen nie.”

Rona verwerf in 2015 haar graad in Drama aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy volg dit op met ‘n onderwysgraad in 2016. Sy het in daardie stadium besluit dat sy nie dadelik in die onderwys wou ingaan nie, maar sy het geweet ‘n toekoms vol drome en planne is vir haar bestem.

Rona vertel, “Ek wou nog altyd musiek skryf, maar het nooit geweet hoe nie. Ek het gebid en vir die Here gevra om vir my die woorde te gee, ek wou so graag goed kon skryf.” Op 17 Februarie 2018 het sy ‘n stuk papier gegryp en begin om haar gedagtes en idees op papier neer te pen. Sy voeg by dat sy haar liedjie binne ‘n halfuur klaar geskryf het; die woorde van “Veilig” is op haar eie lewe gebaseer en is in “haar mond geplaas”.

Die feit dat die liedjie persoonlik en sentimenteel is, het dit vir haar nogal moeilik gemaak om haar gevoel deur diep lirieke aan die publiek se ore bekend te stel, maar nadat haar gesin die woorde gelees het en elkeen oortuig was dat dit sou werk, het sy haar vriend, Arend van der Berg van die orkes Something Borrowed, gevra om haar te help om dit te toonset. Die produksiemaatskappy, Crooked House Produksies, het Rona se eerste skepping verwerklik en die eindproduk was vir haar iets van haarself wat sy met ander kon deel. Sy heg dus diep sentimentele waarde daaraan.

Elke lid van die orkes, wat bestaan uit mense wat voorheen saam met Rona in ‘n kerkorkes gespeel het, het met outentieke instumentele klanke bygedra tot haar musiekvideo. Kort brokkies van Rona se kleintydvideo’s word in “Veilig” se musiekvideo gesien. “Dit wek gevoelens van heimee as sy daarna kyk,” sê sy. Die vrystelling van haar musiekvideo en dramaklasse by Brümilda van Rensburg in Johannesburg het terselfdertyd oor haar pad gekom. ‘’Dit was ‘n baie besige en deurmekaar tyd in my lewe en daar was beslis geen vrye tyd nie. Maar ek geniet wat ek doen.”

Brümilda is Rona se drama-agent. Sy vertel sy het verskeie oudisies vir bekende sepies op kykNET gedoen maar is afgekeur omdat sy, volgens haar, dalk nog ‘n bietjie jonk is vir die meer ernstige toneelbedryf. Dit gee haar tyd om aandag te gee aan haar musiekloopbaan; haar droom is om in die toekoms drama en sang te kombineer.

Wanneer Rona gevra word wanneer die musiekgogga haar gebyt het, vertel sy dat haar liefde vir musiek, drama, toneel, redenaars en enige vorm van die vermaaklikheidsbedryf, op baie vroeë ouderdom ontwikkel het.

“Op my kleintydvideo’s kan mens sien dat ek nooit wou ophou sing nie. In graad 9 het tannie Jenny van Zyl my “Die Koning kom” van Juanita du Plessis laat sing, en hier het dit begin.” Sy het op skool uitgeblink op kulturele en sportgebied maar moes sport prysgee weens ‘n heupoperasie in graad 7. Nadat sy in graad 9 met neurokardiosinkopie, ‘n harttoestand, gediagnoseer is, het sy uitsluitlik op kultuur begin fokus.

Wanneer Rona haar lewenspad ná skool beskryf, vertel sy hoedat sy by die Hoërskool Piet Retief gaan aflos het vir ‘n maand. Haar geliefde Afrikaans- en Drama-onderwyseres, mev. Geldenhuys, is op 25 D esember 2017 skielik oorlede en toe die skoolhoof haar in Januarie 2018 vra om weer te kom aflos, het haar hart dadelik met ‘n punt na haar alma mater getrek.

Nou het sy ook tyd vir haar skryfwerk en dalk ‘n toekomstige album. Rona voel geëerd om hier diensbaar te wees en ervaar hoedat die skool haar ten volle ondersteun. Sy het onder meer ‘n private kamer om musiek te skryf en haar gedagtes te laat gaan in haar af periodes.

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.