Kids

Lani Skryf… Die Malhuis

Lani Skryf… Die Malhuis

Jy’t gegaan van “So, skat, wat wil jy vanaand doen?” na “As jy nie nou in die bad klim nie, kry jy ‘n helse pakslae! En moenie jou boetie byt nie!” in ‘n kwessie van twee jaar. Dis ‘n malhuis.

Ek sê weer. Dis ‘n malhuis. My huis. Ons huis. My kinders se huis. My man se huis. Waar byna elke dag se some ontrafel. Veral saans. En voor julle my kruisig – my kinders is my kosbaarste skat reguit van Bo en ek lief hulle meer as wyn (uhm, meestal). Maar ongelukkig neem geen hoeveelheid liefde die mal-faktor weg nie. Enige ouer sal dit beaam.

Sien, Ouboet is nou twee. Hy is bedags in ‘n speelgroepie waar hy (volgens sy juffrou) die soetste ding onder die son is. Hy bêre die speelgoed. Hy deel met sy maatjies. Hy drink sy tee en eet sy toebroodjie en appel en slaap wanneer dit slapiestyd is. Hy sê selfs vir haar wanneer hy wil piepie en sit al mooi op die potjie. Ek gaan haal hom elke middag met sterre in my oë omdat my kind ‘n geskenk aan die wêreld is en almal dit moet weet en hoekom het Living & Loving my nog nie gebel om ons op hul voorblad te plaas nie?

MAAR. By die (mal)huis gekom: Hy skree kliphard uit die bloute vir ‘n “mêêêkie!” (Melkie). Nie daai bottel nie, “die BLOUE!!” Oukei, die bloue. Wat dan net so op die vloer beland, gevolg deur ‘n skreeuende kleuter, en wat ek elke dag voel die Moeder van alle Vloermoere is. (Elke dag is ek verkeerd, die volgende dag s’n is erger.)

Hy bedaar slegs as hy met sy mêêêkie op die bank sit en na treine kyk. Of nee, hy wil eerder Heidi kyk. Nee, wag, wie het gesê Heidi? Natuurlik wil hy Blippi kyk. Nog ‘n geween omdat ek Blippi opsit – hy wil treine kyk, luister ek dan nie?

Speelgoed word uit kratte gegooi, en wanneer ek hom in my mooiste engel-stem vra om dit ASSEBLIEF op te tel, ontaard dit in ‘n gedreig en ge-pakslae en geskree en weer-gepak-slae. “Jy moet konsekwent wees as dit kom by dissipline,” hoor ek die internet-mammas en kinder-eksperts in my kop. As jy gesê het jy gaan straf, moet jy daad by die woord sit. Eish. Hoeveel keer kan mens ‘n kind raps sonder dat jou hart totaal uit jou borskas ruk? So, kom ons probeer time-out. “Gaan kamer toe!” sê ek nadat hy vir wat voel soos 17 ure aaneen volstrek weier om sy speelgoed op te tel.

“Jy moet konsekwent wees as dit kom by dissipline,” hoor ek die internet-mammas en kinder-eksperts in my kop.

Ek gaan hier stop. Let wel, al hierdie speel af terwyl ek ‘n 4 maande oue baba in my arms hou. Ek gooi met een hand ‘n heel hoender in die oond, skil patats en sit rys op. Ek weet iets gaan iewers oorkook of brand, maar ons sal eet wat oorbly.

Die malhuis.

Hierdie mag dalk klink na loutere hel. Maar om een of ander rede is dit allesbehalwe. Want sodra Boeta se tantrum verby is, wys hy met sy vet vingertjie na my bloes en skree “Mamma, wananja!” (oranje). En hardloop met oop arms na sy pa toe vir ‘n stywe omhelsing en groot soen op die mond. Hy wil ook graag help met die kos. Sy rooi stoeltjie word nader gesleep sodat hy oor die kombuisblad kan sien. Sy werk is om sout op die hoender te gooi en die gesnyde patats in die pot te rangskik. Elke nou en dan prop hy sy mond vol kaas. Kleinboet sit in hierdie tyd op Pappa se skoot en “Grrrr! Grrr!” kliphard. En wanneer hy wil drink, is ek tog te dankbaar om vir tien minute te móét sit.

Voordat die bad-drama begin, jaag Ouboet ons in die huis rond met sy dinosaur-speelding. “DINOOO-SAURUS!! Vang, Mamma! Vang, Pappa!” Geen gym-kontrak nodig nie. Met hierdie speletjie kry ek lag-lag my 3 km-draffie per dag in.

En as hy sê “Nag, Mamma. Lief Mamma”, wanneer sy pa hom bed toe vat, en kleinboet salig aan my bors aan die slaap raak in ‘n flou liggie met Gospel lullabuys in die agtergrond… verdrink ek in so baie dinge… liefde (wat net ‘n ma sal verstaan), skuldgevoel (hoekom was ek geïrriteerd ‘n halfuur terug?), dankbaarheid (ek meen, kyk my pragtige kinders!) en vrede. Ek het vrede met die malligheid in my huis. Ek verkies dit so. Dit hou my lewend. Dit herinner my daaraan dat ouerskap ‘n vloeiende, uitdagende en pragtige ding is. Die gemors in die kombuis kan wag. Die trane van vroeër se tantrums is lankal vergete.

En as die mal te veel in jou huis raak, is daar altyd wyn.

 

Tot volgende keer!

Lani  

Die malhuis

Saaaaaalig.

Die malles in die malhuis.

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.