Men

Brendan Peyper boer vooruit

Brendan Peyper boer vooruit

Hierdie gespierde, talentvolle sangsensasie was nou die dag nog ‘n hoërskoollaaitie wat in sy kamer op sy kitaar gesit en tokkel het. Brendan Peyper se opgang in die musiekbedryf is merkwaardig!

Die stadsliggies, glansgeleenthede, landwye laataand-optredes en staande ovasies het Brendan Peyper in ‘n greep
beet, én hy floreer! Maar hy balanseer al hierdie dinge uit met ‘n oomblik se stilte op die plaas.

Brendan het op ‘n plaas naby Bloemfontein grootgeword en aan die Hoërskool Jim Fouché gematrikuleer. Sy sangloopbaan het reeds op skool begin, en vandag is hy ‘n bekroonde sanger met duisende lojale aanhangers. Sy
treff ersnitte soos “Hy loop oop” en “Stop, wag, bly nog ‘n bietjie”, het dansbane aan die brand. Maar sy talente strek verder as net sing en kitaarspeel. Hy waag selfs sy pen aan liedjieskryf, en het onlangs sy debuut op die planke gemaak as Buddy Holly in die musiekblyspel, Buddy – The Buddy Holly Story. “Dit was ‘n hele nuwe ervaring. Ek het nog nooit akteur gespeel in my hele lewe nie, so daar was baie om te leer. Maar dit was ‘n opwindende proses en ek het dit baie geniet!” vertel hy.

Een van die hoogtepunte in sy loopbaantot dusver was toe hy in Mei as die wenner van die Tropika Island of Treasures-realiteitsprogram aangewys is. Sy spanmaat was Lisanne Lazarus, digitale vervaardiger van East Coast
Radio se ontbytprogram. Saam het hulle R1 miljoen gewen. Hierdie ervaring was vir Brendan onvergeetlik. “Dit was
absoluut ongeloofl ik. Ek was nog nooit voorheen oorsee nie. Dit is sover een van my amazingste ervarings ooit, en dit nog in die Maldives ook!” Met die geld wat hy gewen het, gaan Brendan ‘n deposito op ‘n plaas neersit.

Om terug te kom na eie bodem, wou ons by Brendan weet wat vir hom spesiaal van sy ouerhuis is – siende dat hy
deesdae in Pretoria woon. “Die lekkerste van my ouerhuis is om my ma, pa en sussie te sien ná maande se rondtoer op die pad en weg van hulle af. Ook my ma se kos – niks kom naby dit nie.” Dit is duidelik dat die plaaslewe in sy bloed is en niks hom daarvan kan weghou nie. “Ek voel baie bedruk in die stad en daar is niks wat my meer opgewonde maak as om in die natuur te wees nie, punt.”

Ek voel die Here het vir my ‘n talent gegee wat ek tot die beste van my vermoë moet gebruik.

‘n Mens kan nie van Brendan praat sonder om erkenning te gee aan sy gespierde lyf nie. (Of hoe, dames?) Aanhangers kon veral ‘n goeie kykie hiervan kry op die Tropika Island of Treasures-program. Hierdie boerseun is nie skaam om sy hemp te laat waai vir ‘n musiekvideo of fotosessie nie. Hy is ook benoem as een Cosmopolitan se 12 Sexiest Men 2018. Hy erken dat dit nie iets is wat vanself kom nie. “Ek staan elke oggend 6:00 op, eet 7:00 ontbyt (‘n koppie koffie, ‘n bak oats en tien eiers) en maak seker dat ek voor 8:00 by die gym is. Ek eet nie ALTYD gesond nie, maar die meeste van die tyd probeer ek my maaltye skoonhou. Dit help nie ‘n mens oefen 24/7, maar jy eet nie reg om jou doelwitte te bereik nie.”

Sy nuwe album, Hy loop oop, lê hom baie na aan die hart omdat soveel van sy eie musiek, passie en lewe daarin is. “Dit is ‘n baie energieke album met gekombineerde klanke van rock, pop en country-musiek. Dit is ook ‘n baie persoonlike album vir my, omdat ek ook baie van die skryfwerk gedoen het,” sê Brendan.

Die musiekbedryf in Suid-Afrika kan soms taai wees. Veral as ‘n mens op so ‘n jong ouderdom daarin beland soos wat met Brendan die geval was. “My raad aan my 18-jarige self en aan ander jong musikante sou wees om aan te hou  met wat jy doen, en as jy ‘n droom gevind het waarin jy glo, moenie dat enigiemand namens jou besluit of jy dit gaan bereik of nie. Werk hard en hou vas aan jou droom.”

Brendan is veral geliefd op sosiale media, waar hy ‘n groot deel van sy lewe, asook sy bedrywighede op die plaas, deel. Selfs sy hond, Trompie, het sy eie Instagram-blad. “Trompie is my regterhand, ek kan nie sonder hom nie.
Hy sit ‘n glimlag op my gesig elke keer as ek by die huis kom ná ‘n lang dag.”

Hoewel Brendan al van vroeg in sy lewe ‘n uitmuntende rugbyspeler was, was dit nooit ‘n moeilike besluit om musiek
bó rugby te kies nie. “Ek sou van die begin af by musiek gebly het as ek moes kies. Ek het ‘n groot passie vir rugby en sport, maar sou dit nie my loopbaan wou maak nie. Ek voel die Here het vir my ‘n talent gegee wat ek tot die beste van my vermoë moet gebruik.”

Brendan verklap wat op sy wenslys is:  “Ek wil bitter graag ‘n maand of twee in die Serengetti deurbring om te sien
hoe al die sebras en blouwildebeeste trek. Ek wil ook graag hê my musiek moet wêreldbekend wees voordat ek doodgaan. Hiervoor sal ek natuurlik groter moet gaan, met Engelse lirieke.”

Daar is opwindende dinge waarna ons kan uitsien in Brendan se loopbaan, insluitend ‘n nuwe album. “My nuwe
album behoort in September op die rakke te wees. Ek wil ook baie optredes doen, veral oor Desembermaand, by
talle vakansieoorde. Ek sien baie daarna uit om te sien wat my paadjie vorentoe behels. Dis nou net volstoom vorentoe!”

 

Get It Bloemfontein September 2018


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.