Lifestyle

Reizis Square – ‘n Plek vir drome

Reizis Square – ‘n Plek vir drome

Wat meer as ‘n dekade gelede begin het met ‘n vervalle perseel en twee mense se groot drome, is vandag bekend as ‘n gewilde, eksklusiewe bymekaarkomplek in Bloem vir mense uit kreatiewe hoeke van die samelewing – Reizis Square.

Reizis Square is sinoniem met woorde soos kreatiwiteit, ontspanning, inklusiwiteit en gemoedelikheid. Maar die storie agter die ontstaan en ontwikkeling van Reizis Square is verstommend interessant, en het baie meer diepte as wat mense besef.

Salomè Reizis het sowat vyftien jaar gelede saam met haar man, Stylianos, die perseel op die hoek van Raymond
Mhlabastraat en Waverleyweg gekoop. Saam-saam het hulle gedroom oor die eindelose nuwighede en fantastiese dienste wat hulle aan Bloemfontein gaan bring. Die eerste daarvan was die Fillup-vulstasie, wat as ‘n sterk handelsmerk in die mark teenoor sy reuse-kompetisie staan.

Vyf jaar gelede is Stylianos egter oorlede nadat hy kanker gekry het, wat bitter vinnig versprei het. Dit, nog voordat hulle saam hul drome vir Reizis Square kon bewaarheid. Salomè was platgeslaan. “Ek sorg dat ek elke jaar in Julie – die maand wat my man oorlede is – by sy familie in Griekeland gaan kuier. Die seer slaan my te hard om in daardie tyd in Bloem te wees.” Maar moenie dink dat Salomè se seerkrypad haar gekeer het om die drome vir Reizis Square steeds na te jaag nie. Sy moes wel vinnig leer om elke aspek van die ontwikkeling en onderhouding van die perseel en besighede self te hanteer, en beheer te neem oor sake wat haar man gewoonlik moeiteloos hanteer het. “Ek was altyd soos die stertjie. My man was die brein agter Reizis Square – ek het net ondersteun. Ek moes vinnig leer om my stem dik te maak in ‘n mans-georiënteerde wêreld en my voet soms dwars neer te sit waar dit nodig is.”

Vyf jaar later lyk Salomè se ‘baba’ en haar man se nalatenskap soos ‘n reuse-droom wat bewaarheid is. Reizis Square is ‘n pragtige ontspanningsmekka wat ‘n lus is vir die oog, oor, mond en gees. Daar is die gewilde restaurant, Seven on Café, en Seven on Fine Dining (voorheen Seven on Kellner in Westdene), wat onlangs daar geopen het. Dan is daar die Porch Restaurant & Bar, Monafique-skoonheidsalon, Naume Accessories & Gifts, Gys die Slagter, Creative Edge, Main Obsessions Hair Salon, Jawitz-eiendomsagente, JR Carwash, Fillup On Food, en Jimbo’s Pitstop. Die dekor binne in elke winkel is absoluut betowerend en vars. “Die idee is dat ons oud en nuut bymekaarbring,” sê Salomè.

Reizis square moet ‘n plek wees waar jy jou skoene kan uitskop en gemaklik kan kuier en koop saam met jou  geliefdes.

Sy is baie ernstig daaroor om groen te leef en ou materiaal te herwin. Daarom is die boustyl só ontwerp dat baie van die ou, oorspronklike hout, staal, vloere, vensters, balke en deure hergebruik is in die nuwe ontwikkeling. Argitek Pieter Venter was die meesterbrein agter hierdie unieke ontwikkeling, en hy het ‘n prys van die SAIA (South African
Institute of Architects) hiervoor verower. Die oorspronklike houtoopskuif- motorhuisdeure bied nou ‘n stylvolle agtergrond vir die skoonheidsalon, die oorspronklike ystervensterrame is vindingryk langs mekaar geplaas in Creative Edge se uitstalruimte, diepbruin houtblokkiesvloere versier die kantore by Fillup, en groot, swaar houtdeure bied stylvolle ingange tot die binneruimtes.

“Ons wil vir seker nie ‘n blink “mall”- voorkoms skep nie. Reizis Square moet ‘n plek wees waar jy jou skoene kan uitskop en gemaklik kan kuier en koop saam met jou geliefdes,” sê Salomè. Binne elke ruimte is die atmosfeer van gemoedelikheid aanvoelbaar. ‘n Mens voel werklik welkom daar. Die glimlagge is breed en die vriendelikheid is eg.

Wat ons bring na een van die hoofredes waarom Reizis Square een van Get It se gunstelingplekke is… die maandelikse Reizis Square Nite Market. Op elke derde Vrydagaand van die maand, vir die afgelope drie jaar, kom mense by Reizis Square bymekaar vir ‘n heerlike aand van ontspanning. Daar is by elke mark lewende musiek, heerlike eetgoed – handgemaak deur plaaslike kokke, craft bier en gin, gesellige vure en ‘n warm atmosfeer.

“Ons wil graag iets gee vir die omgewing se mense. Ons wil mense bymekaarbring – mense uit alle oorde van die samelewing, sê Salomè. Die perseel gee die gevoel van ‘n amfiteater, wat hom leen tot ‘n gesellige atmosfeer. Die stringe liggies wat bo-oor die mark span, sorg vir ‘n betowerende voorkoms. Mense kuier daar tot laataand, of stop sommer vinnig na werk om heerlike eetgoed te koop vir aandete.

Reizis Trust behartig ook, onder meer, die verhuring van woonstelle by Reizis Square. Hoewel sy baie hooi op haar vurk het, doen sy alles in haar vermoë om met die unieke Reizis-ervaring haar man se nalatenskap te eer. “Ek doen al hierdie vir hom. Dit was sý drome. Hy was ‘n ongelooflike dinamiese man wat nie geskrik het vir harde werk nie. Hy
het hoeveel keer self ‘n hamer of ‘n beitel opgetel om self aan sy drome te kap.”

Sy erken dat dit nie altyd maklik is nie, en dat mense in die bedryf soms genadeloos kan wees omdat sy alles vrou-alleen hanteer. Maar sy word elke keer aan die doel van Reizis Square herinner wanneer sy tevrede kliënte daar
groet of wanneer geliefdes ‘n aand saam by die Nite Market deurbring.

Besoek Reizis Square by Waverleyweg 2, Waverley. Gaan na hul Facebook-blad (Reizis Square) vir gereelde opdaterings, of na die Nite Market se blad (Neighbourhood Nite Market) vir die nuutste oor elke mark. As jy ‘n stalletjie wil bespreek of meer inligting wil hê, kontak vir Charmaine by salome@reizistrust.co.za, of skakel 051-433-3061.

Eenhede wat deur Reizis Trust verhuur word

Bo: Jaco van Wyk (JR Carwash), Stephan Wiesenaar (Jawitz), Amy Thompson (Creative Edge), Monique Steenkamp Monafique), Francois Koekemoer (7 on Café). Middel: Robert Collum (Jawitz), Heidi van der Walt (Jawitz), Johan Griessel (Jawitz), Salomé Reizis (eienaar). Onder: Jacques van den Heever (Jawitz), Chanté van Zyl (Monafique), Pulane Theli (Naume Accessories)

 

Franco Koch (The Porch), Gert Kruger (Creative Edge), Altus Beeston (Gys die Slagter)

 

Creative Edge

 

Monafique-skoonheidsalon

 

Get It Bloemfontein November 2018


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.