Lifestyle

Menopouse – ‘n emosionele mallemeule

Menopouse – ‘n emosionele mallemeule

As dit voel of jy van binne kook, sukkel om te slaap of sommer mislik en geïrriteerd is, kan jy dalk voor die deur van die Groot M te staan kom. Dr. Helena Scheepers het ‘n hart vir vroue en verduidelik aan ons die A – Z van menopouse.

Menopouse in ‘n neutedop

Menopause is die tyd in ‘n vrou se lewe wanneer sy ophou om haar maandstondes te hê. Dit gebeur omdat die eierstokke, of ovaria, ophou om eierselle vry te stel en om estrogeen en progesteroon te vervaardig. Dit gebeur gewoonlik tussen die ouderdom van 45 en 55 jaar, met ‘n gemiddeld van so 51 jaar.

Maandstondes verander in frekwensie, dit kan meer of minder dikwels wees en die bloeding is van korter duur. Stondes kan ook soms heeltemaal oorgeslaan word.

Indien jou uterus verwyder is en die ovaria is steeds intak, kan jy steeds menopousale simptome kry, maar dit kan die diagnose van die menopouse moeiliker maak. Met die chirurgiese verwydering van die ovaria, kan menopousale simptome vinnig ‘n aanvang neem. Dit word chirurgiese menopouse genoem.

 

Dís hoe jy weet

  • Jy kry warm gloede. Dit begin gewoonlik in die gesig en bolyf en versprei na die res van die liggaam. Die aanvang daarvan is gewoonlik terwyl jy nog maandstondes kry. Dit kan gepaard gaan met hartkloppings en gevoelens van angstigheid. Sommige vroue ervaar koue rillings.
  • Daardie aaklige nagsweet… Dit veroorsaak dat slaap onderbreek word en kan moegheid, irriteerbaarheid en gemoedsversteurings tot gevolg hê.
  • Slaap word ‘n tameletjie. Vroue in hul menopouse sukkel om aan die slaap te raak of word wakker deur die nag, selfs in die afwesigheid van nagsweet.
  • Vaginale droogheid… met gevolglike ongemaklike seksuele omgang.
  • Depressie met angstigheid. Simptome hiervan is gevoelens van hartseer, verlies aan belangstelling en slaapversteurings.
  • Verlies aan konsentrasie, en vergeetagtigheid.
  • Ander simptome kan ook insluit gewigstoename, haarverdunning en ‘n droë vel.

Hierdie simptome kan geleidelik oor ‘n tydperk van gemiddeld vier jaar voorkom – dit word die perimenopouse genoem. Wees wel op jou hoede – dit is steeds moontlik om in hierdie tyd swanger te word as jy nie voorbehoeding gebruik nie!

Onthou, hoewel hierdie alles aaklig klink, hoef menopause nie noodwendig altyd behandel te word nie. Gaan spreek jou dokter wanneer die simptome jou pla, wanneer jou siklusse korter as drie weke is, of as jy swaar menstruasiebloeding ervaar. Gevaarligte kan ook vir jou flikker as jy spikkelbloeding tussen menstruasies kry, of as bloeding voorkom nadat ‘n jaar verloop het sonder enige menstruasie.

Dis ook belangrik om nie ander ouderdomstoepaslike voorkomende sorg af te skeep wanneer menopouse se simptome begin kop uitsteek nie. Siftingstoetse soos ‘n kolonoskopie, mammografie en bloedlipiede is voorbeelde. Ander toetse soos bekkenondersoeke, skildklier- en borsondersoeke sal deur jou dokter met jou bespreek word.

 

Die hart voel alles…

Na die aanvang van menopouse, vergroot die kans op ander siektes. Dit sluit in kardiovaskulêre siektes (hartsiekte), osteoporose en urinêre inkontinensie. Onthou om gereeld kalsium- en Vitamien D- aanvullings te neem. ‘n Aktiewe leefstyl is ook belangrik om jou skelet sterk en jou hart gesond te hou. Vra jou dokter vir ‘n beendigtheidstoets as jy voel dit is nodig.

 

Behandeling

Hormoonbehandeling (met estrogeen) is die meeste effektiewe. Vroue wie se uterus verwyder is, kan slegs estrogeen neem, maar dié wat nog ‘n uterus het, gebruik dit in kombinasie met progesteroon. Daar is verskeie hormoonbehandelings, wat mondelikse tablette, transdermale plakkers en jels insluit.

‘n Lae dosis vaginale estrogeen kan gebruik word vir die behandeling van vaginale droogheid.

Wanneer die gevoel van depressie en angstigheid nie wil wyk nie, kan jy met jou dokter praat oor die gebruik van ‘n antidepressant. Sommiges is effektief in die behandeling van warm gloede en is veral handig wanneer estrogeen gekontraïndikeer is.

Phytoestrogeen (estrogeen van plantoorsprong) word deur gesondheidswinkels verkoop en word bemark as “veiliger” of “natuurlik”.  Dit kom ook in baie voedselsoorte voor.  Die meeste studies kon egter nie duidelike voordele bewys nie. Dit word aanbeveel dat vroue met geskiedenis van borskanker nie phytoestrogeen gebruik nie.

 

Maklike leefstylaanpassings

Die effekte van menopouse kan tot ‘n mate verminder word deur eenvoudige aanpassings aan jou leefstyl te maak. Nee, dames, ons sê nie jy mag nooit weer ‘n glas wyn of ‘n sny sjokoladekoek eet nie, wees net meer bewus van jou gesondheidskeuses! Gereelde oefening, goeie slaapgewoontes en -patrone, ontspanningstegnieke, bekken-vloeroefeninge en ‘n gebalanseerde dieet sal alles help om die simptome van menopouse te verlig. En die belangrikste van alles: Moenie rook nie. Rook verhoog jou risiko van hartsiekte, beroerte, osteoporose, kanker en lei tot verskeie ander gesondheidsprobleme.  Dit kan ook warm gloede vererger en ‘n vroeër menopouse tot gevolg hê.

 

Dr. Helena Scheepers is ‘n algemene praktisyn in Bloemfontein. Sy het ‘n passie vir gesondheidskwessies wat vroue raak, is self ‘n kranige marathon-atleet, en het onlangs haar eerste kleinkind verwelkom.

Kontak: 051-522-7008

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.