Lifestyle

Raak só ontslae van daai mamma-magie

Raak só ontslae van daai mamma-magie

Jy hoor dit té gereeld: “Vandat ek my kinders gehad het, is my lyf net nie dieselfde nie! My maag voel so pap…” Die oefenvrate by Taaiseun draai nie doekies om as dit kom by raad om daardie hardnekkige vetjies weg te werk nie.

Kinders maak ‘n mens se lewe vol en bring eindelose vreugde. Maar ongelukkig gaan ‘n mamma se lyf deur soveel veranderinge, en is dit dikwels moeiliker om van die aangepakte vetjies ontslae te raak as wat dit is om jou baba aan die slaap te kry.

(Terloops – ‘n handige wenk is om squats te doen wanneer jy jou baba aan die slaap sus… baba is blitsvinnig weg droomland toe terwyl jou agterstewe weer terugkeer na sy ou glorie!) Maar daardie hardnekkige vetjies voel soms
of dit alles na die maag toe migreer… Mike Holloway van Taaiseun (‘n private, persoonlike afrigtingstudio in Bloem) sê eintlik verander ‘n vrou se liggaam ná die geboorte van ‘n baba nie so baie soos ons dink nie. “Die probleem lê by mammas wat hul selfdissipline in die kombuis verloor. Wanneer vroue swanger is, dink hulle dit is ‘n verskoning om te eet wat hulle wil. As jy die leisels gelos het, moet jy so gou as moontlik terugkeer na jou gesonde leefstyl vóórdat baba daar was. Maak jou eetgewoontes reg… jy en jou hele gesin kan net daarby baat!”

Persoonlike afrigter en gesondheidskenner, Ezbe Zwiegers, sê wanneer ‘n besige mamma moet besluit watter tipe oefeninge om te doen om van die hardnekkige vetjies om die midrif ontslae te raak, is enige oefening eintlik goeie oefening. “Onthou, as jou oefeninge jou nie uitdaag nie, sal dit jou nie verander nie. So gaan draf, stap, ry fiets, swem
of klim trappe. Moet net nie van jou gewigte vergeet nie.” Afrigter Michael Vosloo draai nie doekies om nie. “Ons word nie vet omdat ons nie ‘n gimkontrak het of verkeerde oefeninge doen nie. Ons word vet omdat ons verkeerd eet en drink… punt. As jy die gemorskos uit jou kombuiskaste en yskas verwyder, sorteer jy 90% van jou gewigsprobleem uit.”

“Vroue dink dat dit moeiliker is om gewig te verloor hoe ouer hulle word en dat jy ‘n pap magie moet hê na ‘n swangerskap. Dis ‘n leuen. Ja, baie dinge word ‘n bietjie moeiliker soos ons ouer word, maar jy hoef dit nie tot op daardie punt te laat gaan nie. Verander eerder hóé jy ouer word,” sê Surandi Winterbach van Taaiseun.

Máák tyd. Jy verdien dit. 

Gun jouself een uur per dag weg van die kinders, werk en verpligtinge. “Dink jy jy kan 100% vir almal gee? As jy nie 4% van jou dag vir jouself kan gee nie, gaan jy vir seker nie 100% vir ander kan gee nie,” sê Jacobus Pretorius. Om ‘n uur per dag aktief te wees, gaan ‘n wesenlike verskil maak aan jou algehele gesondheid, gemoed en voorkoms. Mike voeg by: “Mammas, dis OK om die sexy vrou binnein jou te loop soek. Jy verdien dit… en dit ís moontlik om weer in daardie bikini te pas wat jy as 20-jarige gedra het. Dit hang net af hoe graag jy dit wil hê!”

Mike se topwenke om die maagvetjies te laat wegsmelt:

• Haal suiker, verwerkte en kitskosse sover moontlik uit jou dieet.
• Moenie ontbyt oorslaan nie; dit kan jou metabolisme aanhelp.
• Drink water as jy dors is – nie vrugtesap of dieetkoeldranke nie.
• Kry genoeg groente in.
• Eet rooivleis, maar nie elke dag nie.
• Moenie honger ly in die hoop om maer te word nie. Gee jou liggaam die regte, voedsame kos as jy honger is, en nie leë kalorieë nie.
• Moenie te swaar eet in die aande nie.
• Peusel aan neute, ‘n bietjie biltong en ‘n vrug of twee.

Taaiseun het ‘n sterk span met elk ‘n storie om te vertel. “Ons almal was al self aan die verkeerde kant van die
gesondheidspektrum, so ons verstaan waar ons kliënte vandaan kom. Ons verkoop aan niemand ‘n mooi lyfie nie –
ons maak hulle gesond van binne af. ‘n Mooi lyfie is die beloning van ‘n gesonde leefstyl en harde werk,” sê Mike.

Kontak: 082-900-5752. www.taaiseun.co.za.

 

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.