Entertainment

Shared Address se pad met musiek

Shared Address se pad met musiek

Musiek het vir Joudie en Maureen bymekaar gebring en musiek is die middel wat hulle nou gebruik om mense van uiteenlopende agtergronde te verenig.

Joudie Pieterse en Maureen Taylor is met die eerste oogopslag ‘n doodgewone jong paartjie. Joudie se langerige krulhare en Maureen se gemaklike, vloeiende rokkie en donker stewels gee wel iets weg van hul kunsinnigheid. Albei praat sag en glimlag opreg. Maar as jy hulle twee saam as Shared Address op die verhoog sien, tref hul kragtige en
sielsverruklike klanke jou op ‘n plek waar dit impak maak.

“Ek voel soms onseker oor myself… ek is eintlik ‘n groot introvert. Maar wanneer ek op die verhoog staan en na Joudie kyk, maak niks anders saak as die musiek wat ons saam maak nie,” sê Maureen (27). Hulle tweeman-band, Shared Address, is bekend in Bloem én die res van die land, en in 2017 alleen het hulle bykans 200 vertonings oor Suid-Afrika heen gehou. Hulle het al ‘n verhoog gedeel met groot name soos Dan Patlansky, Albert Frost, Piet Botha,
Elandré Swarts en Jeremy Loops. Hulle klanke is eklektiek, uniek en vol emosie. Saam-saam vloei die mooiste melodieë uit hul pen, en integreer hul ritme en klanke só mooi op die verhoog dat ‘n mens nie anders kan as om saam die noot te vat nie.

Dis moeilik om te glo, maar vier jaar gelede kon Joudie, wat ‘n graad in Kriminologie het, geen noot op ‘n kitaar speel nie. “Ek het geen musiekagtergrond nie. Ek het nooit gedink dat ek ‘n lewe daaruit kon maak nie.” Hy vertel hoedat ‘n vertoning deur meesterkitaarspeler, Dan Patlansky, hom geïnspireer het om dié instrument te leer speel. Hy het homself in ‘n baie kort tyd geleer kitaar speel, en die musiek binne-in hom het só natuurlik na buite gevloei dat selfs hy daardeur verras is. En dis hierdie musiek wat hom twee jaar gelede nader aan Maureen gebring het…

Maureen kom uit ‘n familie waar musiektalent seëvier. “My ma het ‘n ongelooflike sangtalent en my pa speel fantasties kitaar. Daar was altyd musiek in my huis.” Sy is ‘n gekwalifiseerde arbeidsterapeut wat ook nie ‘n paar jaar gelede kon dink dat sy ‘n lewe uit musiek sou maak nie. Maureen en Joudie se paaie het gekruis toe sy haar eerste solo-optrede by ‘n plaaslike restaurant gedoen het, en Joudie daarheen gegaan het op ‘n vriend se aandrang om haar te hoor sing.

Ek glo die wenresep van ons musiek spruit juis uit die uniekheid daarvan.

“Toe ek haar hoor sing, het ek onmiddellik geweet ons móét saam musiek maak,” vertel Joudie. Hul eerste koffie-afspraak kort daarna het ontaard in ‘n liedjieskryfsessie. “Toe ons koffie klaar was, het ons ‘n liedjie gehad. Ons het sonder aarseling besluit om saam musiek te maak, en Shared Address is kort daarna gebore.”

Saam met die ontwaking van Shared Address, het hul romanse ook spontaan vlamgevat. Hulle vul mekaar aan en hul aangetrokkenheid tot mekaar dra by tot hul unieke en effektiewe musiekmaakproses. Op ‘n vraag oor die tipe musiek wat hulle maak, kyk Maureen en Joudie vir mekaar en giggel. “Dis só moeilik om ons musiek te beskryf. Mense
moet dit kom beleef en voel. Maar ek sou sê dit is ‘n unieke mengsel van blues, rock en gypsy klanke. Ek glo die wenresep van ons musiek spruit juis uit die uniekheid daarvan. Ons probeer altyd nuwe instrumente inbring en doen verwerkings van ou bekende liedjies om dit ons eie te maak,” sê Joudie.

Joudie bou sy eie kitare om aan te sluit by die eeu-oue idee van ‘n instrument maak uit enigiets wat klank kan voortbring (afkomstig uit die bluegrass-genre). “Ons word geïnspireer deur die slawe-era in Amerika, toe hulle
washboards, lepels en besems gebruik het om blues-musiek te maak. Die uitdaging lê nou daarin om jou eie instrumente te skep.” Joudie gebruik byvoorbeeld asbakke in die holte van sy kitare om ‘n ronde, vol klank na vore te bring. “’n Mens moet net eksperimenteer… niks is onmoontlik nie.”

Op die verhoog speel Joudie die mandolien, blueskitaar, akoestiese kitaar, sigaarboks-kitaar, bekfl uit en trom. Joudie sing meestal, en speel hand-perkussie, soos tamboryn, washboard en shakers. “As ‘n musikant moet jy kan ontwikkel. Ons kry dikwels inspirasie by ander musikante, maar volg ons eie gevoel en klank om ons musiek
geheel en al uniek te maak,” sê Maureen.

Hulle weergawe van Eminem se Loose yourself is absoluut aangrypend en ‘n mens kan skaars die liedjie herken totdat Maureen begin sing. Hul single, “Annie”, is tans uit, en hulle is hard aan die werk aan hul eerste album. “Al die musiek wat ons skryf, is geïnspireer deur ons musiekreis tot dusver. Plekke waar ons al opgetree het, ervarings wat
ons gehad het… ons wil onvergeetlike oomblikke in ons reis met mense deel deur musiek,” sê Maureen.

Wat ons bring by die gedagtegang agter die naam Shared Address… “Dit gaan daaroor dat ons met musiek mense
van alle kleure, sosiale status en kultuur met mekaar wil verenig. Musiek laat alle pretensies en probleme wegval en word ‘n medium waarin almal saam hul hart kan uitstort en pret hê. En dit is iets wat ons veral in vandag se Suid-Afrika nodig het,” verduidelik Joudie.

Maureen en Joudie se begeerte om goeie musiek weer te sentraliseer in Bloemfontein, het hulle aangespoor om ‘n eie-van-sy-soort musiekfees te reël. Rockin’ Bloem – Dress to Fest vind op 12 en 13 Oktober vanjaar by Spitskop plaas en kunstenaars soos PH Fat, Fokofpolisiekar, Majozi, Jack Parrow, Piet Botha en Jan Blohm sal daar optree. Die fees gaan ook ‘n sterk liefdadigheidsaanslag hê. Vir meer inligting hieroor, volg Rockin’ Bloem – Dress to Fest se Facebookblad.

 

Foto’s: Louis Reynhardt

 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.