Get to Know

Biochemikus Esta van Heerden se navorsing verskuif grense

Biochemikus Esta van Heerden se navorsing verskuif grense

Esta van Heerden se baanbrekerwerk op die gebied van wetenskap en biochemie is merkwaardig. Tog is haar voete so plat op die aarde soos kan kom, en lê haar hart in haar gemeenskap.

Esta is opgewekte, borrellende blondekop met sterre in haar oë. En as sy vertel van die werk wat sy aanvanklik saam met die ruimteagentskap NASA hier op ons eie bodem doen, verstaan mens alte goed waar daardie sterre vandaan kom.

Maar kom ons vertel eers Esta se storie voordat ons by haar opwindende werk in die wetenskap en haar jongste
onderneming gesels. Esta kom oorspronklik van KwaZulu-Natal, maar nadat sy aan die Universiteit van die Vrystaat haar studies in biochemie voltooi het, het sy daar gebly om as dosent en later professor haar kennis aan die jonger
generasie oor te dra. Sy is ‘n biochemikus met ‘n fokus op mikrobiologie. Sy het ook vir ‘n tyd lank in Frankryk en Duitsland gewerk aan projekte waar sy skouers geskuur het met van die wêreld se topwetenskaplikes. In haar werk fokus sy op die ontdekking en ontginning van wat sy noem “strange bugs”, of bakterieë wat vir multimiljoen jare diep onder die aarde se oppervlakt oorleef. Sy, saam met ‘n hele span internasionale kollegas, gebruik dan die navorsing wat hulle help om die oorlewingsmeganismes van sulke organismes te verstaan. Daarmee kan hulle vasstel of daar lewe op ander planete kan wees, en hoe dié tipe organismes kan oorleef.

Esta se navorsing oor water- en grondsuiwering spruit dan ook uit die fonds van hierdie bakterieë. “Dis vreeslik
interessant. Die bakterieë het die vermoë om hul omgewing skoon te maak sodat hulle vir soveel jaar kan oorleef. Ons gebruik nou hierdie beginsel om water en grond te suiwer. Ons leer uit die natuur hoe om ons hulpbronne effektief te kan bestuur.”

Na 17 jaar se intense navorsing het Esta ‘n groot sprong geneem en die akademie verlaat om haar eie maatskappy, iWater, op die been te bring. Met die hulp van ‘n entrepreneursondersteuningsliggaam, Fetola, het Esta toegang tot sakekennis gekry, mentors ontmoet wat haar bygestaan het, en hulp met die oprig van haar besigheidsplan. “Dis werklik ‘n fantastiese program. ‘n Heel ander wêreld het vir my oopgegaan vandat ek die sprong geneem het om my eie pad te volg. Ek leer elke dag so baie.”

Haar maatskappy fokus daarop om water en grond op koste-eff ektiewe en volhoubare wyses te suiwer, asook om
herwinning en groen energie te gebruik. Sy sal graag wil fokus op die opstel van sonenergie in arm gemeenskappe. “Daar is so baie wat ‘n mens kan doen om die omgewing en ons hulpbronne optimaal te kan benut. Maar daar is geen ‘quick fix’ nie. Ek verwag van my kliënte om visionêr te wees en hul samewerking te gee vir oplossings op lang termyn.” Esta werk ook saam met die Cleantech-program en hier het sy ‘n nuwe vennoot ontmoet om saam bakstene uit weggooiplastiek te maak. Sulke stene bied ook baie beter isolering as gewone bakstene, en bied ‘n briljante herwinningsopsie.

Esta se opgewondenheid oor die veld van mikrobiologie is aanvoelbaar, veral wanneer sy gesels oor hoe ‘n groot verskil dit in die lewens van soveel mense wat werklik ‘n helpende hand nodig het, kan maak. As dit vir haar moontlik was, sou jy haar in ‘n arm gemeenskap kon plaas en sy sal eiehandig die water- en rioolstelsel só kon regruk dat soveel meer mense toegang tot drinkwater het, én daar genoeg swartwater (riool) om te suiwer en dan te gebruik vir tuinnatmaak.

“Ek glo ons mense is op aarde geplaas om te heers oor die plante, diere en omgewing. Dis waar my passie lê. Om die
hulpbronne so te gebruik tot optimale benutting vir ons as mense, en om die omgewing te bewaar vir ons nageslag.
Ons leer uit die natuur se wonderwerkies.” Vir Esta is dit belangrik om aan jong wetenskaplikes die kans te gun om in dié veld te werk, en soveel praktiese ondervinding moontlik op te doen. Daarom stel sy elke jaar twee studente aan om ‘n internskap by haar maatskappy te doen. Haar huidige personeel is elk is met die hand gekeur. “My span is spesiaal uitgesoekte kundiges op verskeie gebiede.”

Sy kyk met goeie herinneringe terug na haar navorsingswerk in die diep myne waar sy as mens ongelooflik gegroei
het. Haar fondse kilometers onder die aarde se oppervlak het nuushooftrekke wêreldwyd gemaak – veral dié oor
die bakterieë wat in radioaktiewe omstandighede en selfs gekonsentreerde soutwater oorleef het vir miljoene jare.
“As ons sien dat ‘n organisme in sulke omstandighede kan leef, moet dit mos sekere eienskappe hê wat ons in
ander velde kan gebruik. Die natuur is wonderlik, ons het so baie om daaruit te leer en te ontgin.”

‘n Professor wat Esta gementor het in Frankryk, se lewensuitkyk het sedertdien by haar gebly: “Hy het altyd gesê,
‘Nothing is for free, but if you ask, it will be given to you.’ In hierdie bedryf moes ek leer om ‘n netwerk van kollegas te bou, én vir hulp te vra. En iewers gaan jy weer vir iemand anders ‘n klip uit die pad rol. Wat ‘n ongelooflike voorreg om so saam te kan werk.”

 

 

Bloemfontein Get It October 2018


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.