Men

Marius Jansen van Vuuren se kolossale kuns

Marius Jansen van Vuuren se kolossale kuns

Marius Jansen van Vuuren is ‘n visionêre kunstenaar met ‘n ja-houding. En sedertdien hy besluit het om elke geleentheid – hoe vreemd ook al – aan te gryp, het sy kuns in grootte en statuur ver-TIEN-dubbel.

“As kunsstudent het ek altyd geweet ek wil iets gróóts doen. Ek wil met kuns ‘n dialoog ontketen wat saak maak. Min het ek geweet dat my wens letterlik sou waar word…” Marius gesels met Get It oor ‘n koppie sterk koffie in sy kleurvolle, eksentrieke huis. Die mure is getooi in sy kunswerke – sommige wat onbeskaamd polities gelaaide boodskappe skree, en ander wat abstrakte prag en beweging uitbeeld.

Sy handgemaakte beelde staan oral op koffietafels en sy twee honde en kat lê rustig in die woonkamer waar die son
deur die vensters instroom. Marius se naam was vroeër vanjaar op die lippe van honderde internasionale joernaliste en sy storie in nuushooftrekke wêreldwyd. Hy is die kunstenaar agter verskeie reusagtige kunsbeelde wat regoor die wêreld hul verskyning maak in openbare ruimtes. Die jongste hiervan is ‘n tien meter hoë eekhoring wat uit staal, strooi en riete gemaak is en in die gewilde Atakent Square in Almaty, Kazakstan, staan. Marius het saam met ‘n Britse kunstenaar, Alex Rinsler, gewerk om hierdie beeld as deel van die stad se Art Energy Festival op te rig.

Voor die eekhoringprojek het Marius saam met ander kunstenaars in 2016 ‘n reuse-kameelperd in Bloemfontein gebou as deel van die Vrystaat Kunstefees. Hy het ook ‘n massiewe jakkals in China, wat by die Bird Hotel in Shanghai staan, herbou. Die kameelperd in Bloemfontein is kort na die oprigting daarvan afgebrand, wat die gedagte van die verganklikheid van die mens en aardse dinge uitgebeeld het. Die jakkals in Shanghai het openinge aan sy lyf waarin voëls en ander diere woon. “Dit is metafories van mense se lewe in die stad, en hoe ons almal – mens en dier – in sinergie met mekaar moet woon,” sê Marius.

Marius het ná sy studies in die kunste as ‘n lektor in die kunste aan die Motheo FET College gewerk. Sy vrou, Xany, werk as ‘n lektor in Taalpraktyk aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy vertel hoe sy paadjie uit die akademie na die kunsbedryf hom vlerke gegee het. “Ek het ‘n paar jaar gelede besef dat ek as kunstenaar nie vervulling kry as ek nie op my eie kan werk nie. Ek het besluit om te bedank, en kort daarna het deure vir my oopgegaan met werk wat ek op internasionale vlak kon doen.”

Marius fokus veral op beeldhouwerk en is lief daarvoor om met gemengde media te werk. En ‘n groot oorweging vir
hom wanneer hy skep, is dat hy met sy kuns moet bydra tot die gemeenskap, in plaas van wegneem. “Ek wil ‘n dialoog met my kuns skep waaroor ‘n 80-jarige en ‘n 8-jarige ewe veel kan praat. Met die reuse-beelde wat ek maak, voel dit of ek dit doen. Deur die kuns na die mense te bring eerder as in ‘n galery weg te steek, beweeg ons weg van die eksklusiwiteit daarvan. Dis beskikbaar vir almal om te geniet. En dit is my doel.” Die idee is ook dat hierdie beelde “uit die bloute” op plekke verskyn waar ‘n mens dit nie sal verwag nie.

Die oomblik wat ‘n mens na iets reusagtigs kyk, ontstaan daar ‘n tikkie kinderlike opwinding binne-in jou. Die reuse-eekhoring in Kazakstan bring vir seker hierdie opwinding na die gemeenskap wanneer hulle daar beweeg, maar dit is ook met groot kritiek ontvang, omdat Kazakstan onder ‘n diktatorskap gebuk gaan. “Die mense voel dat die fondse wat vir die bou van die kunswerk aangewend is, beter aangewend kon word, veral waar daar nood is. Maar die mense moet verstaan dat daar slegs gebruik gemaak is van plaaslike kontrakteurs, so die geld is weer net so terug in hul ekonomie in. Solank kuns mense laat praat en emosies ontlok, is my werk gedoen.”

Marius vertel hoe die een ramp na die ander die eekhoringprojek getref het. “Ons het gesukkel om die regte ligging
te kry – die owerhede was taai. Om nie eers te praat van al die uitdagings wat die boukontrakteurs veroorsaak het
nie…” Op die laaste dag was Marius en die span só uitgeput dat hulle skaars hul oë kon oophou. “Ons het tot kort
voor middernag gewerk en ek moes die volgende oggend 4vm op die lughawe wees. Ek was so in ‘n waas dat ek my
tas by die hotel vergeet het. Toe ek terugkom, moes ek onmiddellik begin werk aan ‘n projek in Pretoria. Ek het eers
vyf dae na my terugkoms weer begin mens voel,” vertel Marius.

Maar in die naam van kuns doen Marius alles weer in ‘n oogwink. Sy volgende projek behels beeldhouwerk vir ‘n
sogenaamde art walk in Worcester. “My lewensuitkyk is dat jy alles moet probeer. Moenie dat vrees jou keer om jou talente uit te leef en jou horisonne te verbreed nie. As dit nie vir jou werk nie, dan weet jy ten minste jy het probeer.”

Foto’s: Xany Jansen van Vuuren

 

Bloemfontein Get It October 2018


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.