Get to Know

Almero Welgemoed: ‘n Nuwe tipe klank

Almero Welgemoed: ‘n Nuwe tipe klank

Almero Welgemoed is ‘n nuweling op die musiekfront wat reeds groot golwe maak met sy sielvolle lirieke en melodieë. Get It het met hierdie oud- Bloemfonteiner gesels.

Gee ons ‘n terugblik op jou grootwordjare in Bloem.
Ek is gebore in Bloemfontein. My kinderjare was naby aan perfek. Ons het nooit getrek nie en my familie en gesin
is almal baie close. Ek het skool gehaat, maar die naskoolse aktiwiteite het my deur die dag gekry. Dit was die beste tyd van die dag as ek by die huis kon kom en klavier oefen of ‘n boek lees. Ek en my broer het ook op hoërskool begin om in die middae en aande video’s te maak en dit op YouTube te laai. Dit was nie baie goeie video’s nie, so gelukkig het ons dit verwyder uit die kubberruim. Tog was dit die begin van ons kreatiewe journey.

Vertel ons meer van jouself – jou werk, passies en doen en late.
Ek is voltyds ‘n musikant en skrywer, maar ek vind dit nog intimiderend om dit vir mense te sê. So ek verwys maar na myself as ‘n dromer wat die kans kry om dit met mense te deel. Ek en my broer is saam kreatiewe  inhoudsontwikkelaars van ‘n produksiemaatskappy, Kanada Productions. Nico, my broer, is ‘n fotograaf en
videograaf en ook beslis die een wat eintlik voor die kamera moet wees. Verder skryf ek heeltyd, elke dag en probeer
ook om soveel moontlik mense te ontmoet.

Waar het jou liefde vir liedjieskryf begin?
Ek het nog altyd boeke en stories geskryf. Dit was egter eers in hoërskool dat ek gedigte ontdek het. Ek skryf eintlik maar net gedigte wat goed klink as mens musiek saam met dit speel. My eerste liedjie het ek in graad 9 geskryf.
Gelukkig vir almal is dit nêrens te vinde nie, aangesien dit regtig sleg was.

Jy het saam met Bouwer Bosch aan die digbundel, Liefde Wen gewerk. Wat was  die doel agter hierdie bundel?
Ons wou jong en nuwe digters die kans gee om gepubliseer te word saam met ander bekende skrywers, en ook
Afrikaanse mense se uitkyk op die liefde hoor. Ons het ‘n kompetisie geloods waar enige iemand sy of haar beste gedigte oor liefde kon instuur. Uit die meer as 400 inskrywings moes ons die bestes (na ons mening) kies vir die boek. Die boek is aanlyn of in boekwinkels beskikbaar en is uitgegee deur Naledi.

Jy hou jou besig met verskeie projekte in die vermaaklikheidsbedryf – voor en agter die skerms. Waar voel jy die meeste tuis?
Alles wat ek doen, is vir my intimiderend. Ek voel eintlik net gemaklik as ek op my eie of saam met vriende kan skep.
Om ‘n liedjie te skryf saam met iemand terwyl ons koffie drink en saam droom, is die beste ding vir my. Om die liedjies te vervaardig en saam met ander ongelooflike talentvolle musikante te werk, is ook een van die opwindendste
aspekte van my lewe. Maar voor my klavier voel ek die meeste tuis.

Om redelik jonk in die bedryf te wees en jou unieke stempel af te druk, is nie maklik nie. Hoe bemoedig jy jouself wanneer jy teen mure vasloop?
Ek dink dit is deel van die bedryf en aard van die werk om in mure vas te loop, maar my strategie behels die volgende: loop al langs die muur af, tot jy by ‘n deur kom. Dan klop jy aanhoudend. As jy nie ‘n deur vind nie, moet jy maar besluit of jy die muur wil afslaan of wil omdraai.

Wat is die trotsste oomblik in jou loopbaan tot dusver?
‘n Vreemdeling het by een van my optredes opgedaag en haar storie met my gedeel. Die musiek wat ek skep het
gehelp dat sy nog lewe. Sulke oomblikke sal altyd bo-aan die trots-lysie wees. Ek wens ek kon krediet daarvoor neem, maar ek skryf en skep om myself te help. Indien dit iemand anders help met iets waarmee hulle sukkel, was deur en deur die werk van God.

Wat is jou planne vir die toekoms?
My eerste vollengte album het op 8 Oktober verskyn. Ek is verskriklik opgewonde om dit met die wêreld te deel. Ons het ook heelwat produksieoptredes in die pyplyn vir die res van die jaar. Dalk ‘n toer volgende jaar? Dalk ‘n hond? Ek kan nogal doen met ‘n vrou…

Hoe sou jy jou musiek beskryf?
My musiek is baie storie-gedrewe. Dit is alternatief en vol lirieke wat ek in die nag uitdink. Iemand het eendag gesê ek kerm net op noot. Ek hou van daardie beskrywing.

Mense sal redeneer dat jy jare se lewenservaring het om betekenisvolle lirieke te skryf, maar jy is nog redelik jonk. Waar kom jou woorde vandaan?
Ek dink nie my woorde is ‘n besonderse gawe nie. Ek skryf al lank en ook konstant, so dit is ‘n spier wat geoefen word. Dit help ook om jouself te omring met mense wat kreatief is en van taal en kuns hou.

Wat maak jou gelukkig?
Honde
Koffie
Spoegwolf
Bad

Wat maak jou kwaad?
Katte
Ongeskikte mense
Mense sonder empatie

Wat mis jy die meeste van die Rosestad?
My gesin en honde.

 

 

Almero se jongste musiekvideo, Monochromie, is onlangs vrygestel:

 

Hy het ook die temalied van die film, Nul is nie niks nie, saam met Bouwer Bosch gesing en geskryf:

 

 

Get It Bloemfontein November 2018


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.