Latest News

Bloemfonteinse skrywer benoem vir Britse medalje

Bloemfonteinse skrywer benoem vir Britse medalje

Jaco Jacobs se kinderboeke maak rondtes regoor die wêreld, maar hy bly plat op die aarde gewortel in die Rosestad.

Die Engelse vertaling van Jaco Jacobs se bekroonde jeugroman ’n Goeie dag vir boomklim  is benoem vir die Carnegie-medalje, Brittanje se oudste en mees prestigeryke literêre prys vir kinderboeke, het LAPA Uitgewers aangekondig.

A Good Day for Climbing Trees is vroeër vanjaar deur Rock the Boat, ’n druknaam van Oneworld Publications, wêreldwyd gepubliseer. Italiaanse vertaalregte is ook intussen verkoop.

Die Carnegie-medalje word al sedert 1936 jaarliks deur die Chartered Institute of Library and Information Professionals (CILIP) toegeken. Vorige wenners sluit wêreldbekende skrywers soos C.S. Lewis, Neil Gaiman, Terry Pratchett, Sharon Creech en Philip Pullman in.

“In die kinderboekbedryf is die Carnegie-medalje een van die héél grotes,” sê Jaco. “Bloot om net daarvoor benoem te word, is vir my ’n byna ondenkbare groot eer. Ek kan nie genoeg dankie sê vir my uitgewer by LAPA en my oorsese uitgewer, Oneworld, wat so hard gewerk het om die boek die wêreld in te stuur nie.”

Miemie du Plessis, tans aan die stuur van produkontwikkeling by LAPA, is minder skalks. Háár opmerking aan kollegas was: “Ek het soos ’n tiener tekere gegaan wat die Beatles in lewende lywe gesien het toe ek die nuus gehoor het. Die Carnegie Medal is ENORM, net so Brits en enorm soos die Beatles.” Du Plessis was Jacobs se uitgewer toe die boek verskyn het.

’n Goeie dag vir boomklim is die verhaal van Marnus, ’n gefrustreerde middelkind, wat hom een Desembervakansie laat ompraat om saam met ’n meisie in ’n boom te klim om te probeer keer dat die plaaslike owerheid dit afsaag.

’n Goeie dag vir boomklim was in 2016 die wenner van die kykNET/Rapport-prys se filmkategorie, en was een van die wenners van die internasionale In Other Words-vertaalprojek. Filmregte vir die boek is sedertdien aan M-Net toegeken.

In Oktober vanjaar het nog een van Jaco se boeke, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, oorsee verskyn as A Good Night for Shooting Zombies.

* * *

’n Goeie dag vir boomklim is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. A Good Day for Climbing Trees word ook in Suid-Afrika versprei en is by goeie winkels, ook bekende aanlynwinkels, te koop.

 

Get It Bloemfontein November 2018


View magazine
 

Sing Your Way To LA!

Pre-book your tickets to the smash hit sequel, Pitch Perfect 2 and stand the chance of winning a Contiki trip for you and your bestie!

is a national brand of premium free magazines available in centres across the country.

Click here


to see other Get It magazines in the network.